Potchefstromers moet lig loop vir dié slenter

‘n Nuwe slenter is deesdae veral in Potchefstroom se sakekern aan die orde van die dag. Die misdadigers volg die volgende modus operandi.

‘n Nuwe slenter is deesdae veral in Potchefstroom se sakekern aan die orde van die dag. Die misdadigers volg die volgende modus operandi.
Drie mans nader die voertuig, gewoonlik waar ’n vrou of ’n bejaarde persoon alleen in die voertuig is.
Hulle probeer die persoon se aandag aftrek deur te sê dat die voertuig se wiel pap is en probeer dan om die voertuig se deur oop te maak.
Terwyl die persoon dan na die een kant toe kyk, gryp hulle dit wat hulle wil hê, aan die ander kant.
’n Bejaarde vrou was Sondag in Du Plooystraat byna ’n slagoffer. As dit nie was vir ’n goeie samaritaan wat verbygery het nie, sou sy dalk haar beursie kwyt gewees het.
Die goeie samaritaan, Franciske Maree het mense op Facebook gewaarsku teen wat sy beleef het.
Volgens haar inskrywing op die Potchefstroom CPF-groep het ’n man vir die bejaarde vrou gesê dat haar wiel pap is, waarna die vrou uitgeklim het om ondersoek in te stel.
In dié tyd het Maree daar aangekom en besef iets is nie pluis nie. Die vrou het om haar voertuig gestap terwyl haar deur oop was, met haar beursie wat op die sitplek gelê het.
Maree het gestop om die vrou by te staan.


“Soos ek haar inhelp, kom die ander makker aangestap.
“Ek maak haar deur dadelik toe, sluit hom en klim in my kar. Net toe sy wegtrek hol hulle altwee weg,” lui haar inskrywing op Facebook.
In ’n tweede voorval, Dinsdagmiddag in Sol Plaatjiestraat, was Leon de Beer (70) ’n slagoffer van ‘n rooftog. Dieselfde modus operandi is gevolg as in die vorige geval.
Drie mans het sy voertuig genader en sy aandag afgetrek deur die deur te probeer oopmaak en te wys dat sy wiel pap is.
“Na so ‘n rukkie het hulle weggestap. Ek het besluit om te kyk waaroor hulle so aangegaan het,” vertel De Beer.
Volgens hom het een van die mans ’n leë banksak gegryp terwyl de Beer seker gemaak het of sy voertuig se bande nie pap is nie.
“Ek en ’n sekuriteitswag het hom agternagesit. Hy het seker besef dat ons hom gaan vang, want toe gooi hy net die sak neer.
“Selfs die sekuriteitswag het vir my gesê dat dit gereeld gebeur,” vertel hy.
Hy het mense gewaarsku om hulle oë oop te hou en waaksaam te wees teen dié misdaad.

Exit mobile version