NewsNews

Te veel deel nog nie in ekonomiese voordele

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se besoek aan Potchefstroom verlede Saterdag het die tonge laat klap

Prof. Tommy du Plessis, direkteur, NWU Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur skryf:
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se besoek aan Potchefstroom verlede Saterdag het die tonge laat klap – nie alleen van inwoners van Potchefstroom wat die helikopters, vliegtuie en motorbrigade moes gadeslaan nie – maar ook dié van politici wat in die aanloop tot die ANC se konferensie in Desember, pro- en teen-geluide teenoor die besoek gemaak het.
Wat die adjunk-president aan die sakegemeenskap van Potchefstroom en omgewing gedeel het, het mens tog aan die dink gesit. Sy verduideliking van die land se “balansstaat” was ‘n insiggewende perspektief, ofskoon dalk te simplisties en net uit een oogpunt.
Tog is dit waar dat Suid-Afrika onmiddellik na 1994 ekonomies baie beter daaraan toe was as voorheen en beslis baie beter as in die huidige tydvak. Dat Suid-Afrika die situasie moet konfronteer en moet verander is, volgens mnr. Ramaphosa, ‘n gegewe feit. As dit nie gebeur nie kan die “bates” skielik in “laste” omskakel.

Foto: Marianke Saayman

Van die aspekte wat uitgelig is was, onder andere, radikale ekonomiese transformasie, grondhervorming en die sogenaamde “kaping” van staatsinstellings. Sy boodskap was dat daar nog te veel inwoners van die land is wat nie deel in die ekonomiese voordele nie en dat dit die plig van die sakesektor is om die ommeswaai te bewerkstellig. Daarmee saam is dit belangrik dat die sakevertroue weer herstel moet word.
Grondhervorming is hoog op die agenda, maar terselfdertyd moet kundigheid aan plaaswerkers en opkomende boere oorgedra word om te verseker dat grond doeltreffend bestuur word. Hierdie proses moet konstruktief bestuur word. Mnr. Ramaphosa was baie duidelik daaroor dat enige persoon wat staatsinstellings “plunder” voor stok gekry moet word en dat hulle die geld of bates wat gekaap is, moet teruggee.
Aan die einde was die boodskap baie duidelik – Suid-Afrikaners moet almal saamwerk om die huidige situasie sinvol te verander sodat die negatiewes (laste), nie die positiewes (bates) vernietig nie. Die byeenkoms die oggend is aangebied deur die Noordwes Kamer van Handel en Nywerheid in samewerking met die Sakeskool van die Potchefstroomkampus van die NWU.

Foto: Marianke Saayman

Related Articles

Back to top button