NewsNews

Misdaad Potch steier

Daar word gemiddeld 82 mense per maand in Potchefstroom en Ikageng beroof, 21 per maand is slagoffers van seksuele oortredings en gemiddeld vier mense word per maand vermoor.

Daar word gemiddeld 82 mense per maand in Potchefstroom en Ikageng beroof, 21 per maand is slagoffers van seksuele oortredings en gemiddeld vier mense word per maand vermoor.
Potchefstroom en Ikageng se ernstige misdaad het vanjaar gestyg tot 1 279 in vergelyking met 894 sake verlede jaar. Dit sluit seksuele oortredings, moord en roofsake in.
Daar is 982 sake van roof, 251 sake van seksuele oortredings en 46 moordsake aangemeld.
Volgens Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, is Noordwes een van drie provinsies waar die algehele misdaadsyfer toegeneem het.
“Die misdaadstatistieke bevestig dat misdaad buite beheer is. Die toename in ernstige misdade is ook kommerwekkend,” het hy gesê.
Volgens hom is die 3.9% styging in seksuele oortredings in Noordwes die hoogste in die land.
Daar is 251 sake van seksuele oortredings in Potchefstroom en Ikageng aangemeld. Dit sluit verkragting, onsedelike aanranding en poging tot onsedelike aanranding in.
In vergelyking met buurdorpe soos Klerksdorp wat Jouberton insluit en baie meer inwoners as Potchefstroom het, was daar in Klerksdorp 51 moorde teenoor Potchefstroom se 46, daar was 920 rooftogte teenoor Potchefstroom se 982 en 371 seksuele oortredings teenoor Potchefstroom se 251.
Volgens McGluwa is die DA nie verbaas oor die provinsie se misdaadsyfers nie.
“Polisie in dié provinsie het nie genoeg hulpbronne, personeel of toerusting nie,” het McGluwa gesê.
Dwelmverwante misdaad, wat in Potchefstroom as ’n groot probleem gesien word, het afgeneem.
Verlede jaar is daar 1 334 dwelmverwante misdade aangemeld, terwyl daar vanjaar 1 063 sake aangemeld is. Hierdie misdaad word groepeer onder misdaad wat opgespoor is weens die polisie se optrede.
Volgens brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, sal die provinsiale polisie teen volgende week amptelik die provinsiale statistieke bekendmaak.

CSS, Crime ad

Related Articles

Back to top button