Bloed, sweet en genade – Die gewaagde lewe van ’n nuusfotograaf…

Mario van de Wall is ’n fotograaf. Hoewel daar honderde ander fotograwe in Potchefstroom is, is daar iets aan Van de Wall wat hom uitsonder van die res. Sommige mense sal dit swaarkry noem, hy noem dit ondervinding. Benewens die feit dat hy ’n toon verloor het weens sy jarelange geveg teen diabetes, het hy ’n uitdagende lewe in die beroep gehad.

Hy stap hink-en-pink in die restaurant in met ‘n uitdrukking van jare se ondervinding op sy gesig. Na hy op die kunsleerbank gaan sit, vra hy in ‘n kalm stem vir die kelner om vir hom ’n koppie filterkoffie te bring. Swart, sonder suiker.

Mario van de Wall is ’n fotograaf. Hoewel daar honderde ander fotograwe in Potchefstroom is, is daar iets aan Van de Wall wat hom uitsonder van die res. Sommige mense sal dit swaarkry noem, hy noem dit ondervinding.
Benewens die feit dat hy ’n toon verloor het weens sy jarelange geveg teen diabetes, het hy ’n uitdagende lewe in die beroep gehad.

Van de Wall is al vir die grootste deel van sy lewe agter die lens van ’n kamera.
Hy het as nuusfotograaf gewerk vir Die Volksblad (nou Volksblad) en toe vir Beeld. Vandag is hy ‘n vryskutfotograaf wat die meeste van sy tyd daaraan wy om sport vas te vang in beeld, en hy geniet elke oomblik daarvan.

“Mens moet die lewe geniet en die humor daarin kan sien, maar dis nie te sê die lewe is ’n grap nie. Genot en humor is wat die lewe mooi maak,” sê hy met ’n glimlag.

Dit kom van ’n man wat al baie genot en humor uit die lewe kon tap, maar dit het nie maklik gekom nie, en hy moes vele struikelblokke deurgaan om geluk te kon bereik.

Mario met sy gunsteling speelding. Foto: Marianke Saayman

In 1990 het hy die grootste struikelblok nog teëgekom – een wat amper sy lewe geëis het. Dit was op ’n Saterdagoggend vroeg in Februarie in Brandfort toe lede van die Afrikaner Weerstandsbeweging ’n swart protesoptog (wat nooit gebeur het nie) wou stopsit. “Ek het gegaan om foto’s te neem, min wetende dat my eie mense my sou aanrand,” sê hy.

Een van sy kollegas, Gert Coetzee (nou redakteur van Volksblad) het gesit en maak asof hy koerant lees en Van de Wall het sy lens tussen Coetzee en die koerant ingedruk om die gebeure af te neem.

“Daar waar hulle (lede van die AWB) met hulle mielietrokke aankom en mense aflaai met swepe, sambokke, knopkieries en haelgewere binne sakke. Ek raak toe braaf en gaan sit op ’n stel trappe om beter foto’s te kan neem, maar een van hulle sien my toe tussen die bome deur.”

Skielik het ’n groep van sowat 30 AWB aktiviste in sy rigting gestorm. “Hulle was bietjie vinniger as wat ek gedink het hulle sou wees en hulle kry my toe in die hande. Hulle het my geskop en geslaan met knopkieries – soos barbare.”

Die destydse redakteur van die Volksblad, Hennie van Deventer, het ’n boek geskryf oor die oorgang van regerings tydens die einde van die Apartheidsjare. Hy het in sy boek, Kroniek van ’n Koerantman (Tarlehoet, 1998), in detail oor die voorval geskryf.

‘n Jong fotograaf van Die Volksblad, Mario van de Wall (28), is op Saterdag 3 Februarie 1990 deur berserker regses met pikstele, knuppels en stokke tot in die waakeenheid van ‘n hospitaal geslaan. Terwyl hy op die grond gelê het, is hy soos ‘n hond geskop en met sy kameraband gewurg.

Hy sê dat Van de Wall, ’n diabeet op insulien, amper ’n oog verloor het en swaar ly aan die gevolge van die wrede aanranding.

“Om geen ander rede nie as dat hy te midde van erge intimidasie getrou op sy pos gebly het om sy werk te doen.”

Twee foto’s wat saam met ‘n artikel deur Hennie van Deventer in die Nieman Reports gepubliseer is in 1990. Foto: Nieman Reports, Fall 1990.

Van de Wall sê dat hy nie die voorval sou oorleef het as dit nie vir ’n swart man, Kosten Nkana, was nie. “Na hulle my aangerand het, het hulle my in ’n stegie gelos en daardie man het my gevind en my omgedraai sodat die bloed uit my neus en keel kon uitloop. As dit nie vir hom was nie sou ek versmoor het,” sê hy.

Van de Wall sê dat sy geloof hom gebring het tot waar hy vandag is. “In geloof gebeur daar so baie dinge. Ek het ’n beskermengel wat my optel uit situasies uit waarin ek moes dood wees.”

Hy het weens die voorval gedeeltelike sig in sy een oog verloor, sy neus was ook so erg gebreek dat hy sy reuksintuig permanent verloor het. Vier van sy aanvallers is 18 maande na die aanval skuldig bevind en gevonnis, drie met ’n R2 000 boete of twaalf maande elk en een met ’n R500 boete of drie maande.

Van de Wall se dapperheid het nie ongesiens verbygegaan nie. Hy is in 1991 deur Van Deventer benoem as ‘n kandidaat vir die Nieman Foundation se Louis M. Lyons-toekenning vir joernalistieke onverskrokkenheid. Die prestigeprys is voorheen al toegeken aan Max du Preez, bekroonde skrywer, joernalis en die stigterredakteur van die Vrye Weekblad, sowel as Zwelakhe Sisulu, die bekende joernalis en anti-Apartheid aktivis wat in 2012 gesterf het.
Na die Brandfort aanrandingsaak afgehandel is, het hy by Beeld begin werk as fotograaf. Daar het hy saam met Jan Hamman, ’n bekroonde veteraan-nuusfotograaf wat in 2004 gesterf het, gewerk. Van de Wall beskryf hom as sy leermeester in fotografie. So het hy in Johannesburg gewerk terwyl sy vrou, Phoebe, in Potchefstroom gewoon het.

“Op die ouderdom van 49 het ek op ’n dag besef dat my lewe besig is om verby my te vlieg.

Ek het myself gevra waarheen ek op pad is, en of ek vir die res van my lewe net foto’s wil neem terwyl my vrou in Potchefstroom sit. Waarheen was ek op pad?”Hy sê dat dit weer eens die plan van die Here was dat daar herstrukturering plaasgevind het by die koerant. “Baie mense is daarna afgelê en ek het toe besluit om vrywilliglik, met ses maande se salaris, te bedank.”

Mario met sy kamera langs die sportveld. Foto: Marianke Saayman

In 2007 het hy permanent in Potchefstroom kom woon om ’n gesin saam met sy vrou te probeer begin. “Die sekondewyser het my elke aand agter die kop geklap en gesê: ‘dis nou of nooit’.”

Na baie jare se aanhou bid en probeer, het die Van de Wall gesin skielik verdubbel toe die tweeling, Marco en Giovanni, uiteindelik gebore is. “As ek nog langer gewag het, het ons dalk nooit die kans gehad om kinders te hê nie,” sê hy.

Hy sê dat die tweeling ook ’n resultaat is van die Here se genade.

“Dis genade. So groot, so ongelooflik groot. Tot nou toe waai die wind my seile elke dag vol.”

Vandag werk Van de Wall as ’n vryskutfotograaf. Hy kan gereeld langs die sportvelde gesien word waar hy op sy klein stoeltjie sit met sy kamera in die hand.

Hoewel hy soms nog verlang na die adrenalien en opwinding wat hy gekry het in sy dae as nuusfotograaf, geniet hy sy lewe nou meer as ooit van tevore.

“Ek het ’n baie lekker lewe gehad, maar ek het dit amper laat verbygaan. My gesin is nou my passie, ek leef elke dag vir hulle.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version