NewsNews

Burgemeester gee op sê DA

Die burgemeester van die Potchefstroom/Tlokwe Munisipaliteit, rdl. Kgotso Khumalo, het in ’n brief aan die provinsiale regering vir hulp gevra.

Die burgemeester van die Potchefstroom/Tlokwe Munisipaliteit, rdl. Kgotso Khumalo, het in ’n brief aan die provinsiale regering vir hulp gevra.
Dit voor die mosie van wantroue teen die speaker en burgemeester voor die raad dien.
’n Brief is aan die LUR van plaaslike regering, Fenny Goaloalwe gestuur waarin die burgemeester vir hulp vra vir onder meer dienslewering en finansiële- en begrotingsbestuur.
Volgens Neels Coetzer, hoofsweep van die DA, is dit ’n erkenning deur die ANC dat hulle nie die vermoë het om die munisipaliteit te bestuur nie.
“Ons is nie verbaas oor enige van die ANC se redes vir die nodige ingryping nie, aangesien ons al vir maande ons kommer uitgespreek het oor die munisipaliteit se mislukkings en tekortkominge.
Dit is ook duidelik dat die samesmelting van die Potch/Tlokwe Munisipaliteit met Ventersdorp net voor die verkiesings in 2016 om politieke redes gedoen was en dat geen finansiële- en of menslike hulpbron risiko’s ooit oorweeg is nie. Die openbare deelnameproses in terme van die regulasies is ook nie gevolg nie,” het Coetzer gesê.
Volgens hom het die DA in 2015 al beswaar gemaak by die afbakeningsraad teen die samesmelting.
Die besware sluit in dat Ventersdorp bankrot is en op die ou einde ’n las vir die nuwe munisipaliteit asook die Potch/Tlokwe Munisipaliteit sal wees.
“Die agterstallige munisipale diensteskuld van die 2016/17 finansiële jaar beloop R262 miljoen en agterstallige betalings aan uitstaande krediteure soos aan die einde van die 2016/17 finansiële jaar word gerapporteer as R75 miljoen,” het Coetzer gesê oor die finansiële gesondheid van die nuwe munisipaliteit.
Volgens hom toon die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag dat buitensporige vrugtelose en verkwistende, onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes oor die afgelope finansiële jaar gemaak is.
“Die Speaker het totaal beheer verloor oor die administrasie van die raad en kan nie eers verseker dat die orde reëls binne die raad nagekom word nie. Na ons mening is dit ‘n simptoom van die totale ineenstorting van die munisipaliteit onder die ANC-leierskap, wat deur die burgemeester bevestig is, deur die provinsiale regering te versoek om in te gryp,” het hy gesê. Die DA het glo verskeie kere vir die burgemeester gevra vir ’n verduideliking oor waarom die munisipaliteit so sukkel, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, was die brief waarna die DA verwys nog nooit voor die raad vir bespreking nie.
“Alle ander kwessies wat deur die DA uitgelig word, is kwessies wat bespreek sal word wanneer die mosie van wantroue in die raad bespreek gaan word. Die munisipaliteit sal kommentaar lewer sodra die mosie in die raad afgehandel is,” het Maphosa gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button