Donkerpers PUKKE dalk op pad

’n Verandering van kleur van die Noordwes Universiteit (NWU) se sportspanne na donkerpers is dalk op die kaarte.

’n Verandering van kleur van die Noordwes Universiteit (NWU) se sportspanne na donkerpers is dalk op die kaarte.
Volgens prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, is die gebruik van maroen, groen en blou wat die verskillende kampusse verteenwoordig in die lig van die nuwe unitêre model heroorweeg.
Volgens hom sal die NWU se logo nie verander nie. Sportspanne sal egter nie meer maroen, blou of groen gebruik nie, maar ’n eenvormige kleur. Dieselfde geld vir bemarkingsmateriaal waar een primêre kleur nodig is.
’n Verslag is aan die universiteit se bestuurskomitee voorgelê wat die voorstel van ‘n primêre kleur aanvaar het. Die voorstel moet nog voor die NWU se raad vir goedkeuring dien.
Volgens hom is daar na die komitee se oorweging met onder meer studente en sportliggame beraadslaag, waar donkerpers as ’n moontlike kleur voorgestel is. “Die finale besluit rondom enige kleurverandering lê steeds by die NWU-raad,” het hy gesê
Twee ander kwessies is taal en die naam, Pukke. Kgwadi sê “die universiteit erken dat daar kampusbyname bestaan wat deur die raad goedgekeur is. Die voorstel is dat hierdie byname nie meer in formele kommunikasie gebruik word nie. Tog sal niemand verhoed word om dit informeel te gebruik nie. Wat die taalkwessie betref is ons beleid een van veeltaligheid, wat beteken dat ons die gebruik van Engels, Afrikaans en Setswana aanmoedig.”
Die name van die NWU se verskeie Facebook groepe is verander, waarna Kgwadi erken het dat dit ’n fout was. Volgens hom is die Facebook-blaaie prematuur kombineer en dat dit reggestel sal word.
“Almal kan verseker wees dat die NWU ‘n tuiste bly vir almal wat hier wil studeer en werk.
Ja, ‘n nuwe voorkoms word voorgestel, maar ons fokus op uitnemendheid en ons verbintenis tot ons waardes bly leidende beginsels,” het hy gesê.
Gerugte dat nog meer drastiese veranderinge gaan kom, soos die name van koshuise wat gaan verander, is ontken. Die SR voorsitter, Jacques Hugo, het in ’n video saam met die adjunk-visekanselier van die Potchefstroom-kampus, prof. Fika Janse van Rensburg en die studentedekaan, prof. Rikus Fick, dié gerugte ontken.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version