NewsNews

Bejaarde baklei terug tydens plaasaanval

Skote het Dinsdagaand op ’n plaas in die Katdoornbos-omgewing geklap nadat twee verdagtes ’n bejaarde man oorval het.

Skote het Dinsdagaand op ’n plaas in die Katdoornbos-omgewing geklap nadat twee verdagtes ’n bejaarde man oorval het.
Volgens Hennie Lingenfelder (71) was hy in die bed toe hy omstreeks 22:00 sy honde erg gehoor blaf het.
“Ek het gesien die boerboel hardloop op en af teen die draad en het die haelgeweer reg gekry,” vertel hy.
Kort daarna is hy by die deur uit om te kyk waarvoor die honde blaf. Toe Lingenfelder by die deur uitstap het hy gevoel hoe een verdagte ’n pistool teen sy kop druk.
“Dit is ’n gevoel wat mens nie vir mense kan beskryf nie. Hy het my in die huis ingedwing, maar toe ek in die huis kom het ek hom met borde wat daar gelê het begin gooi en vir my vrou geskree dat hulle ons aanval,” vertel hy.
Die verdagte het vir sy makker geskree om te kom help waarna die tweede verdagte vir Lingenfelder met ’n mes in sy arm en vinger gesteek het.
Volgens hom het hulle hom toe verder in die huis ingedwing.
“Hulle wou aanhoudend weet waar my vrou is, maar ek het net gesê ek weet nie.
Nadat hy weer die vuurwapen teen my kop gedruk het het ek vir hom gevra of ek nie vir hom kan bid nie. Ek het vir hom gesê dat hy weet wat hy nou doen is verkeerd,” vertel hy.
Intussen het Lingenfelder se vrou, Ans (68), wat onder die bed weggekruip het met die haelgeweer uit die kamer tot in die kombuis gekruip. Lingenfelder het verby die kombuis geloop waar daar stoele gestaan het.
“Toe ons verby die stoele loop het ek hom met ’n stoel probeer gooi. Ans het ’n skoot met die haelgeweer geskiet,” vertel hy.
Lingenfelder het dadelik na die kamer gegaan waar hy nog ’n vuurwapen gaan haal en die alarm gedruk het. Die verdagte het drie skote na Lingenfelder geskiet voor hulle albei gevlug het.
“Ons vermoed dat Ans een van hulle raakgeskiet het, ons het die volgende oggend bloed op die stoep gekry,” vertel hy.
Kort nadat hy die alarm geaktiveer het kon hulle ook hulle buurman bel om vir hulp te vra.
“Binne minute was daar seker 20 of 30 boere van die omgewing om te kom help,” vertel hy.
’n Baie emosionele Lingenfelder het vertel oor sy twee geliefde honde wat vergiftig is.
“Die klein hondjie het ons die volgende oggend dood gevind. Die Boerboel het ek eers later gesien is nie lekker nie.
Ons het met hom veearts toe gejaag, maar hy is op pad soontoe dood. Mens dink altyd dit gebeur met ander mense, maar ons lewe en dit is die belangrikste. Ons is nog geskok, maar ons sal deur dit kom,” het hy gesê.
Lingenfelder het gesê dat hulle van plan is om van die plaas af te trek.
Kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar word ’n saak van poging tot moord en huisroof ondersoek.

CSS, Crime ad

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button