NewsNews

Bekende paramedikus oorlede

Met sy kop in haar hande het sy vir hom gesê “ek is lief vir jou”. Sy laaste woorde was “Jy moet soet wees” en toe het hulle ’n laaste soen gedeel.

Met sy kop in haar hande het sy vir hom gesê “ek is lief vir jou”. Sy laaste woorde was “Jy moet soet wees” en toe het hulle ’n laaste soen gedeel.
Dit was die toneel wat Maandagaand by Potchefstroom Medi-Clinic afgespeel het toe ’n bekende paramedikus, Isak Buys (41) op so ’n jong ouderdom aan ’n hartaanval oorlede is.
“Ek breek nog elke oomblik in stukkies en ek weet nie of iemand ooit weer die stukkies aan mekaar sal kan sit nie.
My hele lewe het oor hom en die kinders gegaan, ons het ’n engel verloor,” het ’n emosionele Salomi Lubbe, Buys se aanstaande, gesê.
Lubbe en Buys het planne begin maak om binnekort te trou.
Volgens Leon Nell, wat vir ’n jaar lank saam met hom in ’n ambulans vir IMR gewerk het, was Buys Maandag van diens af.
“Ons was by Medi-Clinic besig met ’n pasiënt toe hy bel en sê dat hy op pad is.
Hy het vreeslik van borspyn gekla. Toe hy inkom het hy gesê ‘help my’, waarna hy inmekaar gesak het.”
Die personeel het dadelik KPR begin toepas. Hulle kon daarin slaag om Buys twee keer terug te kry. Die tweede keer het hy met Salomi gepraat voor hy finaal inmekaar gesak het.
Volgens Louise Smit, Buys se ouer suster, verstaan sy jongste seun, Sakkie, wie oor twee weke drie jaar oud word, nog nie wat aangaan nie.
“Hy vra kort-kort ‘waar is my pappa?’ Dan sê ons vir hom by liewe Jesus. “Kom ons gaan haal hom” sê hy dan, vertel sy.


Kort na sy dood het die huldeblyke aan Buys op sosiale media ingestroom.
Kollegas by IMR, asook die groter nooddienste gemeenskap, het hulde aan hom gebring.
Volgens Nell is daar nie woorde wat kan beskryf hoe dit voel om hom te verloor nie.
Buys word Maandag 4 September om 12:00 in Klerksdorp uit die Gereformeerde gemeente Noord in Pastoriestraat begrawe.
Hy laat sy ouers, Chris en Lida Buys, sy broers Johan en Chris, sussie Louise Smit, sy aanstaande Salomi Lubbe en sy kinders, Suanè (14), Tiaan (10) en Sakkie (3) agter.

Related Articles

Back to top button