NewsNews

‘Bankamptenaar’ vang inwoners met ’n slap riem

Vier sake van bedrog is verlede week by die polisie aangemeld nadat onder meer ’n “bankamptenaar” inwoners met ’n slap riem gevang het.

Vier sake van bedrog is verlede week by die polisie aangemeld nadat onder meer ’n “bankamptenaar” inwoners met ’n slap riem gevang het.
By twee van die voorvalle wat Dinsdag 22 Augustus plaasgevind het is presies dieselfde modus operandi gevolg.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is twee mense onderskeidelik om 14:00 en 18:30 gekontak. Die persoon het homself voorgehou as ’n verteenwoordiger van hulle onderskeie banke.
“Hulle is gevra of hulle nog gelukkig is met die bank se diens waarna hy hulle bankkaart- asook pinnommers gevra het,” het Chaka gesê.
Hy het gesê hy wil seker maak dat al die mense se debietorders nog reg is.
Later die aand het een van die slagoffers boodskappe begin ontvang dat lugtyd vanuit die rekening gekoop is. Ongeveer R1 000 se lugtyd is gekoop.
In die ander geval het die sogenaamde bank verteenwoordiger aan die slagoffer gesê sy kwalifiseer vir selfoonbankdienste, maar om dit te aktiveer moet sy *35*0000# op haar selfoon insleutel en daarna haar selfoon afsit.
Volgens Chaka was die vrou gelukkig omdat die amper R10 000 wat die verdagtes uit haar rekening wou steel deur die bank geweier is.
Die volgende dag is ’n vrou byna met ’n Facebook-slenter gevang nadat sy geld aan ’n man oorbetaal het wat sy op dié sosiale media platform ontmoet het.
“Die ontmoeting het gelei tot telefoonoproepe tussen die man en vrou. Hy het Woensdag 23 Augustus gevra dat die vrou hom R25 000 moet leen.
Sy het dit oorbetaal, maar die transaksie is by die bank gestop nadat hulle dit as verdag gemerk het,” het Chaka gesê.
Chaka het die gemeenskap gemaan om baie versigtig te wees vir mense wat besigheid oor die telefoon wil doen.
“Maak altyd eers seker by jou bank oor die geldigheid van ’n versoek.
’n Bank sal nooit jou pinnommer oor ’n e-pos of oor die telefoon versoek nie,” het hy gesê.

CSS, Crime ad

Related Articles

Back to top button