OPVOLG: Wat sê Nasionale tesourie oor berugte telefoonkontrak

Die nasionale tesourie het aan die Herald gesê as spesifieke wetgewing en ’n regverdige en deursigtige proses nie gevolg is nie, die berugte telefoonkontrak nie reg is nie.

Die nasionale tesourie het aan die Herald gesê as spesifieke wetgewing en ’n regverdige en deursigtige proses nie gevolg is nie, die berugte telefoonkontrak nie reg is nie.
Die Herald berig al ’n geruime tyd oor die telefoonkontrak wat deur die munisipale bestuurder ten koste van sowat R10 miljoen gesluit is. Die kontrak sluit die opgradering van die munisipaliteit se Potchefstroom kantore se telefoonstelsels in. Die Herald het marknavorsing gedoen wat aangedui het dat die munisipaliteit tot R7 miljoen te veel betaal het vir die opgradering.
Die munisipale bestuurder het destyds aan die Herald gesê dat ’n regsopinie wat sy gekry het, haar laat besluit het om die kontrak vir die opgradering van Ventersdorp se telefoonstelsels uit te brei na Potchefstroom, omdat die twee munisipaliteite saamgesmelt het. Die kontrak is uitgebrei sonder ’n tenderproses of dat daar vir die uitgawe begroot is.
Dr. Len Mortimer, verbonde aan die Skool vir Openbare Leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch, se opinie was dat die mark weer getoets moes word deur middel van ’n tenderproses, omdat die omvang van die werk in Potchefstroom baie groter was as die van Ventersdorp.
“’n Groter kontrak sal meer kompetisie bied, wat dan die beste waarde vir geld vir Tlokwe se belastingbetalers sal gee,” het hy gesê.
Volgens die nasionale tesourie moet die rekenpligtige beampte die redes vir die afwyking van die verkrygingsproses by die volgende raadsvergadering voor die raad dien.

Die nasionale tesourie het gesê dat volgens wet, ’n munisipale bestuurder slegs van die verkrygingsproses kan afwyk in ’n noodgeval as die goedere of dienste slegs van een verskaffer bekombaar is
Vir die verkryging van spesiale kunswerke of items van historiese belang waar spesifikasies moeilik is om te bekom
Die verkryging van diere vir dieretuine of enige ander uitsonderlike geval waar dit onprakties of onmoontlik is om die normale verkrygingsproses te volg.

Volgens Hans Jurie Moolman, DA koukus voorsitter in die munisipaliteit, het die munisipale bestuurder nog geen redes voor dié raad gedien nie.
Hy het ook aanvanklik kapsie gemaak teen die kontrak omdat daar nie begroot is vir die opgradering nie.
Dr. Blaai-Mokgethi, munisipale bestuurder het aangevoer dat dit nie begroting sal beïnvloed nie omdat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA), ’n R13 miljoen toelaag gegee het vir enige uitgawes wat te doen het met die samesmelting.
Die Herald het na twee weke steeds geen terugvoer ontvang van dié departement rondom die kwessie nie.
Volgens Dr. Blaai-Mokgethi spaar die munisipaliteit op die langtermyn baie geld, aangesien die telefoonrekening baie minder is met die nuwe stelsel.
’n Bron binne die munisipaliteit, wat anoniem wou bly uit vrees vir viktimisering, het aan die Herald gesê dat die telefone nie altyd werk nie.
“Die vorige telefoonstelsels was baie beter,” het die bron gesê.

Lees hier al die vorige berigte oor die telefoonkontrak

‘Legal is not always right’ says expert about telephone contract

R10 m telefoon-kontrak: Waarde vir geld?

Telefoonkontrak is billik sê munisipale bestuurder

‘Niks fout met telefoonkontrak nie’ sê munisipale bestuurder

R10 miljoen telefoonstelsel vir munisipaliteit

 

 

 

Exit mobile version