Swendelaar vang kerke en skole met vals vleis-stories

’n Berugte swendelaar wat reeds meer as 40 mense en instansies uitgevang het met sy knoeiery, het nou sy tande in Potchefstroom gesink. Die swendelaar wat homself bekendstel as Boet Rossouw, Magnus Rossouw of Johan Botha, bel gereeld kerke of skole met ’n wolhaarstorie om geld uit hulle te maak. Sy storie verskil elke keer, …

’n Berugte swendelaar wat reeds meer as 40 mense en instansies uitgevang het met sy knoeiery, het nou sy tande in Potchefstroom gesink.
Die swendelaar wat homself bekendstel as Boet Rossouw, Magnus Rossouw of Johan Botha, bel gereeld kerke of skole met ’n wolhaarstorie om geld uit hulle te maak.

Sy storie verskil elke keer, maar sy manier van geldmaak bly dieselfde.

Verlede week het hy Agapé Christian School in Potchefstroom gebel en gesê dat die skool R14 000 se vleis gewen het. Die enigste voorwaarde was dat die skool self die vleis by sy plaas moes kom haal. Dit is glo Vaalwater Boerdery, sowat 20 km buite Potchefstroom op pad na Klerksdorp.
’n Verteenwoordiger van die skool het toe gery na waar hy verduidelik het die plaas is.

Op pad daarheen het hulle nog ’n oproep van die man ontvang met ’n versoek om twee lugtydpakkette van R275 elk vir hom te stuur. Na hulle die lugtyd aan hom gestuur het, het die skool nie weer van die man gehoor nie.

In Februarie is ’n kerk in Warden in die Vrystaat ook so uitgevang toe iemand van dieselfde nommer, dié keer met die naam Boet Steyn Swart, ’n yskas, vrieskas, wasmasjien en ander toebehore aan die kerk wou skenk. Die kerk het ook twee R275 lugtydpakkette aan die man gestuur, sowat 30 km uit die dorp gery na sy plaas, “Langlaagte”, en nooit weer van die man gehoor nie.

Louise Roets, wat op Facebook van die voorval vertel het, sê dat daar nog twee mense in Warden deur dieselfde man uitgevang is.

Op 5 Mei is ’n oproep met dieselfde nommer na ’n kleuterskool in Pretoria vir kinders met spesiale behoeftes gemaak onder die naam Kobus Roets. Hy het gesê dat hy vleis van twee koeie aan die kleuterskool wou skenk en dat hulle dit by sy plaas, Langlaagte Melkery, sowat 25 km buite Pretoria, moes kom haal. Gelukkig het die kleuterskool se personeel reeds geweet dat hy ’n swendelaar is, aangesien hulle die nommer op ’n webtuiste gesien het waar sulke gevalle gerapporteer word. Nog sowat 40 gevalle is aangemeld op die webtuiste, www.tellows.co.za

Die meeste van die mense het oproepe gekry van die nommers 071 494 0791 en 076 578 9640. Sommige ander slagoffers het ook die nommers 082 705 4052 en 076 868 8302 aangemeld.

Die een ding wat al hierdie oproepe in gemeen het, is dat die man elke keer vra vir R275 Vodacom lugtyd, en dat hy iewers op ’n plaas buite die betrokke dorp of stad woon.

Exit mobile version