NewsNews

Excelsior se ridders trap fiets vir ‘n verskil

Veertien van Excelsior se koshuismanne het tydens die onlangse wintervakansie besluit om skouer aan die fietswiel te sit en die lang pad vanaf Potch tot in Durban aan te durf met sendingwerk as hoofdoel vir gemeenskappe in en om die Vrystaat en KwaZulu-Natal te bedien. Excelsior se jaarlikse fietstoer-sendingprojek is nou al ‘n dekade aan …

Veertien van Excelsior se koshuismanne het tydens die onlangse wintervakansie besluit om skouer aan die fietswiel te sit en die lang pad vanaf Potch tot in Durban aan te durf met sendingwerk as hoofdoel vir gemeenskappe in en om die Vrystaat en KwaZulu-Natal te bedien.
Excelsior se jaarlikse fietstoer-sendingprojek is nou al ‘n dekade aan die gang, vandat voormalige primarius, Marais Bester die projek geloods het om geld in te samel en die persone op kampus in die koshuis en die breë gemeenskap te dien. Bester het daardie tyd fondse vir ‘n nieroorplanting nodig gehad en in die eerste jaar van die toer is die helfte van die fondse ook vir Bester se operasie geskenk.

Van daar af het Bester en tientalle ander Excelsior ridders dié fietstoer aangepak om ander te dien soos hulle self in die koshuis bedien is.
“Een van die redes waarom ek Excelsior toe gekom het, was juis om by die fietstoer betrokke te raak. Die lekkerste ding is hoe ons klomp ouens mekaar leer ken en meer van jouself gee om behoeftiges te help en die Woord te versprei,” vertel Jaco Linde, die HK-lid van vanjaar se fietstoer.
Linde, Tiaan Kotzé, Franno Strohmenger, Hendri Vorster, Henry Steyn, Ruan Vorster, Wian van Jaarsveld, Gert Agenbag, Stephan Janse van Vuuren, Marco Mongia, Jan-Hendrik Opperman, Armand Groble, Marco Kotze en Michal du Plessis het die fietstoer voltooi.

Dié fietsryers se roete het in Potchefstroom begin, waar hulle 120 kilometer na Kroonstad getrap het. Daarna het hulle Huis Eden besoek, wat ‘n oorgangshuis vir werkloses is. Hier verskaf die groep kos, klere, Bybels en gee geestelike bemoediging.

“Baie van die mense daar is verskriklik behoeftig en dit is altyd goed as die Potchefstroomse gemeenskap vir ons fietstoer volgende jaar genoeg skenkings kan gee. Ons waardeer dit altyd baie,” noem Linde.
Daarna het hulle die pad na Bethlehem aangedurf, waar hulle op pad na die Charlotte Theron Kinderhuis sokker by een van die informele nedersettings op hulle roete gespeel het.

“Dit was belangrik vir ons om aan almal by die kinderhuis se grootste behoeftes om te sien en net ons hart vir omgee te wys,” noem hy.
Vanaf Bethlehem is daar na Golden Gate getrap, tot die volgende stop by Harrismith en Howick, waar daar verdere sendingwerk gedoen is. Die laaste trapsessie was van Howick na Durban, waar die Excelsior-manne vir twee dae in Durban ontspan het na ‘n week op die fietse.
Volgens Linde was die toer vir hom in sy derde jaar nie fisies te moeilik nie, maar vir ‘n klomp ander was dit soms moeilik, aangesien niemand noodwendig top fietsryers is nie.

“Die lekker ding vir die eerstejaars is dat hulle die seniors ken en die goeie en slegte kante van mekaar sien. So vorm daar ‘n hegte band tussen die ouens. Die hoogtepunt is dat ons met ‘n leë houer Bybels teruggekom het en so min of meer 150 uitgedeel het.

Liefde Wen was ook een van die groot borge van die fietstoer om die sendingwerk moontlik te maak. “Liefde Wen het ook ‘n bus vir ons geborg wat baie gehelp het, waar ons by sekere plekke met ‘n bus moes ry voor ons weer begin trap het. Dan het ons ouers maar blikkieskos vir ons gegee en ons kon darem in die NG Kerk in Howick ook oornag en stort by die gemeentelede. Die mense gee om vir ons op die toer en dit is fantasties,” vertel hy verder.

Linde noem ook dat Excelsior nie sommer die roete sal verander nie, omdat hulle vir die afgelope 10 jaar goeie netwerke opgebou het en kan opvolg jaar na jaar en volhoubaarheid kan nastreef.
“Daar is nog verskriklik baie werk om daar te doen en elke jaar maak ons ‘n verskil, wat die belangrikste is.”

Kyk die foto’s hier:

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button