Misdaad meeste op Bult en sakekern

Statistiek van Mooirivier Beskerming wys dat verreweg die meeste misdaad op die Bult en in die sentrale sakekern van Potchefstroom plaasvind.

Statistiek van Mooirivier Beskerming wys dat verreweg die meeste misdaad op die Bult en in die sentrale sakekern van Potchefstroom plaasvind.

Dié statistiek is net sake waarby Mooirivier Beskerming betrokke was. Die polisie se amptelike statistiek toon nie misdaad per woonbuurt nie. Wanneer die syfers van Junie vanjaar met die van Junie verlede jaar vergelyk word, toon dié syfers ook dat misdaad op die Bult en sakekern, hoewel minimaal, besig is om te styg.
In Junie vanjaar was Mooirivier Beskerming by 41 voorvalle op die Bult betrokke en by 54 in die sakekern. Ander woonbuurte in die stad lyk heelwat beter.
Die naasmeeste was in die Suiddorp, Ou Bailliepark en kleinhoewes waar 17, 14 en 22 voorvalle onderskeidelik aangeteken is. Al die ander woonbuurte het nie dubbelsyfers nie. Diefstal en huisbraak maak die grootste deel van misdaad op die Bult en sakekern uit.
Uit die syfers kan gesien word dat die Bult byna dieselfde getal voorvalle het as die sakekern, wat die berugte Wandellaan en taxistaanplek insluit.
Bernard de Klerk, wat Sondagoggend met ’n mes gesteek is toe hy inbrekers in sy erf in Reitzstraat betrap het (lees berig elders), het aan die Herald gesê dat hy en sy vriende oor die algemeen nie veilig voel op die Bult nie. “Ons maak deesdae seker dat ons in groepe saam beweeg as ons gaan geld trek, selfs as ons gaan inkopies doen,” sê hy. Volgens hom is die karwagte maar net ’n deel van die probleem. “‘n Ander probleem is mense wat by Cachetpark parkeer en dan uit hulle karre kuier. Hy sê dit is algemene kennis dat ’n verskeidenheid dwelms op die Bult gekoop kan word.
Sommige besighede op die Bult het met die wyksraadslid, Santi Britz, saamgewerk om die Bult deur die dag skoon en netjies te hou.
Die Team up Clean up-projek het werkers aangestel om skoon te maak en karre op te pas.
Die is ‘n algemene feit dat die Bult gedurende die dag skoon is.
* Die Herald het verlede week berig dat die Noordwes-Universiteit, munisipaliteit en besighede besig is met planne om die situasie op die Bult te verbeter.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version