NWU student sterf toe motor rol in Potchefstroom

Die einde van ’n kort maar kragtige lewe.

“AJ… die naam sê alles. Kort en kragtig, net soos sy lewe was.”

Hierdie is maar net een van die baie goeie dinge wat gesê is nadat die tweedejaar Puk-student, AJ (André Johann) Ayres (20), op Donderdag 6 Julie tragies dood is toe sy motor in Piet Bosmanstraat in Potchefstroom omgeslaan en gerol het.

Volgens ER24 woordvoerder, Russel Meiring, is paramedici omstreeks 03:00 na die toneel ontbied, waar AJ op die grond langs sy motor gevind is.

Die motor het glo verskeie kere gerol en AJ was reeds dood toe ER24 op die ongelukstoneel kom.
AJ is reeds die derde student in 6 weke wat in ongelukke in Potchefstroom gesterf het. Op 27 Mei is CTU student Armandt van Niekerk in ’n kop-teen-kop botsing dood en op 20 Junie is Puk-student Nico van den Heefer in ’n motorfietsongeluk dood.

Nog ’n Puk-student, Megan Pistorius (21), wat saam met AJ in die motor was, het haar heup glo in die ongeluk gebreek en is in Mediclinic Potchefstroom opgeneem.

AJ het B.Sc. Mikrobiologie en Biochemie (plant- en dierkunde) studeer en was ‘n inwoner van Villagers manskoshuis. Hy is in Olivedale, Randburg gebore en was in Hoërskool Noordheuwel.
“AJ het graag motorfiets gery, lekker kos gemaak, sy vriende onthaal en was graag laf,” sê sy suster, Elzandré van der Walt.

AJ was die jongste lid van die HOG Clearwater motorfietsklub en was ook by die Highway Cruisers betrokke. Hy het ook baie vriende in ander motorfiets- en motorkringe gehad en het volgens sy suster baie mense in sy lewe aangeraak.

Die toneel waar AJ langs sy motor gevind is. Foto: ER24

“Hy het harte verander, lewens gered. Hy was ‘n verligte wese wat gestuur is as leermeester. Hy is deur verskeie mense as hul held beskryf,” sê Elzandré. AJ sal onthou word as ‘n terggees wat altyd ‘n glimlag of ‘n “stoute fronsie” op sy gesig gedra het.

“Hy sou sy lewe vir ‘n ander gegee het, al het hy hulle nie eens geken nie,” sê Elzandré.

AJ se meisie van ‘n jaar en vier maande, Lizaan Pitout, sê dat AJ ‘n pragtige mens was en dat hy enige iets sou doen vir die mense wat hy liefgehad het.

“Hy het my op sy hande gedra en ek kon net nie vir beter gevra het nie.”
AJ het ‘n passie gehad vir motors en baie vriende in die resieswêreld gehad. Op 7 Julie het van die deelnemers wat by Tarlton gery het, hulde gebring aan AJ deur R.I.P AJ op hul voertuie te plak. AJ se vriend, Eddie Bartlett, het AJ se motor vir hom ingestel en hulle het gereeld saam gery. “Karre was vir hom ‘n passie. Dis deur karre wat ons vriende geword het. Ons het almal by Tarlton vir hom gery,” sê hy. Eddie sê dat AJ die mees saggeaarde en liefdevol le persoon was met ‘n baie sterk en gemaklike persoonlikheid.

“Hy was ‘n groot ou met ‘n klein hartjie en ons gaan hom mis,” sê hy.

Die Herald het na verskeie versoeke geen terugvoer ontvang oor die toestand van Megan Pistorius nie.
AJ laat sy ma, Margariet Ayres, pa André Ayres, suster Elzandré Ayres van der Walt, meisie Lizaan Pitout, swaer Chris van der Walt en die Denner en Pitout gesinne agter.

Sy roudiens was Woensdag 12 Julie by die Nederduitsch Hervormde Kerk Culembeeck en is waargeneem deur ds. Annerie Conradie, wat hom gedoop het.

Van die mense wat resies gery het by Tarlton het hulde gebring aan AJ deur R.I.P. AJ op hul motors te plak. Foto: Facebook

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version