NewsNews

Lakse optrede van munisipaliteit het ontwikkelaar boos

‘n Ontwikkelaar is boos omdat hy lank reeds met die Potch-Tlokwe munisipaliteit sukkel om werk waarmee hulle begin het, te voltooi.

‘n Ontwikkelaar is boos omdat hy lank reeds met die Potch-Tlokwe munisipaliteit sukkel om werk waarmee hulle begin het, te voltooi.
’n Gat van ongeveer vyf meter diep is op die sypaadjie in Beyers Naudestraat gegrawe vir ’n rioolaansluiting, maar is steeds nie toegegooi nie.
Die sloot wat oor die pad gegrawe is, is ook nog nie herstel nie.


Die werk is gedoen om ’n nuwe kompleks wat gebou word, aan die hoofrioollyn van die Potch-Tlokwe munisipaliteit te koppel.
Volgens die ontwikkelaar, Brennon Clevely, sukkel hulle al sedert Januarie vanjaar met die munisipaliteit om die riool te koppel.
Hulle bydraes vir die dienste is reeds betaal, maar die aansluiting is nog nie gemaak nie.
“Die kontrakteur het al die pype gelê, maar maak nie klaar nie. Ek het selfs die materiaal vir die kontrakteur gekoop,” verduidelik Clevely.


Volgens hom het die munisipaliteit glo gesê dat hulle nou klaar is met die aansluiting. Intussen word die ontwikkelaar kort-kort gebel oor die toestand van die pad waaraan hy niks kan doen nie.
Johan Zerwick, raadslid vir wyk 4, het Dinsdagmiddag self die sloot probeer gelykmaak sodat voertuie makliker daaroor kan ry.
“Ek is verbaas dat hier nog nie ’n groot ongeluk was nie,” vertel Zerwick.
Die ontwikkelaar het tot op datum al sowat R250 000 aan die munisipaliteit oorbetaal vir aansluitings- en dienstebydrae.
Hulle het glo verskeie versoeke aan die munisipaliteit gerig om die werk te voltooi, maar tot op datum is daar nog niks gedoen nie. Volgens Zerwick moet daar inspeksie gehou word sodra die werk voltooi is, sodat daar seker gemaak kan word dat dit reg gedoen is. Dan moet die gat toegegooi word en die pad herstel word.


“Dit is gevaarlik vir motoriste maar ook vir voetgangers, wat in die aand loop. Daar kan maklik iemand in die gat val,” het hy gesê.
Volgens Jeanette Tshite, munisipalewoordvoerder, wag hulle vir die kontakteur om die ou rioolaansluiting te ontkoppel en dit aan die nuwe groter lyn te koppel. Volgens haar behoort dit Woensdag (12 Julie) klaar te wees.
“Sodra dit gebeur, sal die munisipaliteit die pad herstel en die gat op die sypaadjie toegooi,” het Tshite gesê.

Related Articles

Back to top button