Student byna dood na mesaanval

Oud-Volkie en tans ‘n eerstejaarstudent is op 29 April omstreeks 02:30 in Kerkstraat beroof en met ’n mes aangeval.

Oud-Volkie en tans ‘n eerstejaarstudent is op 29 April omstreeks 02:30 in Kerkstraat beroof en met ’n mes aangeval.
Cornè Rust (18) was op pad huis toe. Hy was ongeveer 500 meter van sy huis af toe hy twee mans sien wat van voor af na hom toe gestap kom.
“Ek het vermoed hulle gaan my dalk vra vir geld. Ek het nie baie gehad nie, maar het besluit dat ek vir hulle sou gee, sodat hulle my kon uitlos,” vertel Rust.
Soos hy vermoed het, het hulle geld by hom geëis, waarna hy toe vir hulle gegee het wat hy het. Hy het aanhou loop toe een van die verdagtes iets vir hom gesê het.
“Toe ek omdraai het een van hulle my gegryp. Ek het hom weggestamp, maar toe gryp die ander een my. Daarna was daar ’n gedeelte wat ek glad nie kan onthou nie. Toe ek weer sien, het hulle my teen ’n palissade vasgedruk. Ek het net gesê hou op,” vertel hy.
Hulle het sy beursie gevat en gevlug. Volgens Rust het hy aanhou loop, maar hy het bietjie duiselig gevoel.
“Na ’n rukkie het ek gevoel my hemp plak aan my lyf vas en toe voel ek die messteekwonde en sien die bloed.”
Die een wond was so groot dat hy sy vinger in die wond kon druk. Gelukkig het ’n reaksievoertuig van Mooirivier Beskerming verbygery.
Mooirivier het mediese bystand geskakel, waarna hulle die verdagtes gaan soek het. ER24 het Rust hospitaal toe geneem vir verdere behandeling.
Behalwe vir die drie meswonde wat hy opgedoen het, is Rust se neus en kakebeen ook gebreek.


“Ek verstaan nie waar kom die geweld vandaan nie? Ek het vir hulle alles gegee wat ek gehad het,” sê hy.
Hoewel Rust berading na die voorval ontvang het, wat volgens hom baie gehelp het, is hy steeds versigtig wanneer hy iewers heen beweeg. Hy was vir vyf dae in die hospitaal voordat hy ontslaan is.
“Dit is regtig ’n wonderwerk dat ek nog lewe, mense moet regtig nooit alleen rondbeweeg nie. Moet ook nie terugbaklei nie, al wil jy, dit maak dit net erger,” sê hy.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version