Boer erg beseer in brand maar oorleef

’n Boer op ’n plaas op die grens van Ventersdorp en Potchefstroom is Dinsdagmiddag ernstig beseer toe hy deur vlamme oorval is, terwyl hy ’n brand op sy grond probeer blus het.

’n Boer op ’n plaas op die grens van Ventersdorp en Potchefstroom is Dinsdagmiddag ernstig beseer toe hy deur vlamme oorval is, terwyl hy ’n brand op sy grond probeer blus het.

Volgens Ben Hohowsky was hy na sy seun toe en met sy terugkoms het hy ’n brand naby huise op sy grond gesien.
“Ek het dadelik my seun geroep en ons het die vuurvegters reg gekry,” vertel hy uit sy hospitaalbed.
Die brand was teen 13:00 grootliks geblus toe hy rook naby ’n voerstoor gewaar.
“Ons het daar aangekom en was besig om die vuur te blus toe daar skielik ’n sterk wind opsteek. Dit het gelyk of die vuur vier meter in die lug opspring,” vertel hy. Voor Hohowsky kon besef wat besig was om te gebeur, was hy deur vlamme omsingel.


“Dit het so onwerklik gevoel, alles was nou net onder beheer.
“Ek het op daardie oomblik gedink dit is verby, maar gelukkig was my seun veilig. “Ek was so 20 treë van die bakkie af en het besef as ek nie nou hier wegkom nie, gaan ek doodbrand.”
Hohowsky het sy arm voor sy gesig gehou om die vlamme te keer terwyl hy na sy bakkie gehardloop het.
“Toe ek in die bakkie klim het ek besef ek moet hier wegkom.
Mens hoor altyd hoe almal praat wat voertuie wat tydens brande ontplof.”


Hohowsky het huis toe gejaag waar sy vrou sy wonde begin skoonmaak het. Daarna het sy skoondogter hom na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling. Die brandweer is ontbied wie in samewerking met die Potch brandbeskermingsvereeniging die brand onder bedwang gebring het.
“Ek het verskriklik baie pyn gehad, maar nadat ek by die hospitaal aangekom het, het almal vinnig gewerk om die pyn te verlig,” sê hy.
Hohowsky was teen Woensdagmiddag steeds in die waakeenheid. “Hulle is maar bang vir infeksie, daarom hou hulle my hier vir observasie. Hulle gaan die wond skrop en kunsmatige vel opsit wat sal help met die genesingsproses.”
Op ’n vraag of dit ’n wonderwerk is dat hy nog lewe, het hy net ja geantwoord, maar sy vrou, Susan se kopknik het alles gesê oor die dankbaarheid dat Ben nog lewe as wat enige woorde kon sê.

Exit mobile version