Professore se Aprilgek-stories tref die kol

Twee professore van die Puk het op 1 April met twee treffer Aprilgek-stories behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat.

Twee professore van die Puk het op 1 April met twee treffer Aprilgek-stories behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat.
Die rektor, prof. Fika Janse van Rensburg, het in ‘n video op Facebook aangekondig dat een van die studente se gewildste kuierplekke op die kampus, die Draak, toegemaak gaan word. Glo omdat baie dissiplinêre aksies voortgespruit het uit kuiertjies by die Draak en omdat daar klagtes was van ander kuierplekke!
Dit het die kol getref, want sommer gou-gou het honderde studente kommentaar gelewer of die storie aangestuur. Hier en daar het een darem gewonder of daar nie ’n slang in die gras is nie. En inderdaad het prof. Fika darem later almal gerusgestel.
Die NWU-Puk se bekende omgewingskenner, prof. Kobus van der Walt, het ook ’n uitstekende storie gehad.

Prof. Kobus van der Walt.

Hy het Saterdag tydens sy gereelde Omgewingspraatjie op RSG luisteraars baie oortuigend meegedeel dat die regering die Outeniquaberge tussen George en die Klein Karoo met 100m gaan verlaag, ten einde die invloei van wolke te verbeter en sodoende die reënval in daardie droë gebiede te verhoog. En indien die projek geslaagd is, gaan hulle Tafelberg met 200m verlaag om die droogte daar te verlig.
Die klankleêr is by https://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20170401_BREKFIS_OMGEWING.mp3
Prof. Kobus het heelwat e-posse, van onder andere woedende luisteraars, hieroor gekry!

Exit mobile version