NewsNews

Oud-Gimmie rugbyster kritiek na messteek

‘n Oud-Gimmie wat een van sy skool se ster rugbyspelers was, is steeds kritiek nadat hy Sondagoggend omstreeks 03:00 met ’n mes gesteek is.

‘n Oud-Gimmie wat een van sy skool se ster rugbyspelers was, is steeds kritiek nadat hy Sondagoggend omstreeks 03:00 met ’n mes gesteek is.
Die aanval op Jaswyn Damon, wat deel van Gimmies se span was wat in die finaal van die Beeldtrofee in 2015 gespeel het, het op die Bult plaasgevind. Hy is tans ’n student op die Puk-kampus van die NWU en in Patria manskoshuis.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het hulle Damon bewusteloos op die toneel gevind.
Hy het ’n meswond in die bors gehad en kon nie praat nie.
Damon is deur paramedici na Potchefstroom hospitaal geneem. Hy is daarna weens die ernstige aard van sy besering na die Tshepong hospitaal in Klerksdorp oorgeplaas.
Volgens Damon se pa, Henry, is hy twee keer gesteek, in die hart en in sy long. Sy ouers het eers besef hoe ernstig dit is toe Damon Klerksdorp toe oorgeplaas moes word.
“Daar was nie die nodige spesialiste by Potchefstroom hospitaal nie en hy is daarom oorgeplaas. Hy moes Sondag ’n noodoperasie ondergaan wat gelukkig goed afgeloop het. Die dokter het gesê dat net een uit tien mense die beserings wat hy opgedoen het oorleef,” het Henry aan die Herald gesê.
Damon sterk tans aan en is Woensdagoggend uit die intensiewe-sorgeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas.
“Hy is baie sterk, maar ons moet vir Patria se koshuisvader, James Stoffberg, die hoof van Gimmies, Roelof Oosthuizen, al die inwoners van Patria en die leerlinge van Gimmies bedank vir hulle gebede.
Die hoof van Gimmies het elke dag bidgroepies laat kom om vir Jaswyn te bid. Die dokters het gesê dat die gebede hom deurgetrek het. “Ons wil net hê geregtigheid moet vir ons seun geskied,” het Henry gesê.
Na deeglike ondersoek deur die polisie is ’n 20-jarige student van die NWU op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.
Abu Baka Dassir (20) het Maandag in die hof verskyn. Die saak uitgestel is tot 25 April. Dassir is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
“Ons moet beter na ons studente kyk, daar is deesdae baie ernstige misdaad op die Bult. Die plek moet veiliger gemaak word,” sê Henry.
Volgens wyksraadslid, Santi Britz, werk baie van die straatligte op die Bult al vir die afgelope vier maande nie.
“Die situasie word weekliks rapporteer, maar geniet nie aandag nie,” sê sy.

Related Articles

Back to top button