Weerhouding van belasting dalk volgende

Die gevoel in die gehoor van sowat 200 tydens die DA se openbare vergadering Dinsdagaand, was dat die volgende stap die weerhouding van belasting is.

Die gevoel in die gehoor van sowat 200 tydens die DA se openbare vergadering Dinsdagaand, was dat die volgende stap die weerhouding van belasting is.
Hans Jurie Moolman, voorsitter van die DA koukus, het egter gesê dat dit slegs ’n absolute laaste opsie is.
Chris Landsberg, DA koukusleier, het gesê die Raad het die ideale vir Potchefstroom gehad, maar dat nie een daarvan nog tot uitvoer gebring is nie. “Die munisipale bestuurder is dalk ’n baie goeie verpleegster, maar dit blyk dat sy nie opgewasse is vir die taak waarvoor sy ongeveer R1.6 miljoen per jaar verdien nie,” het Landsberg gesê.
Die nuutste verslag van die ouditeur-generaal dui daarop dat R853 miljoen gedurende die finansiële jaar gemors is. Dit sluit in R9 miljoen wat deur SARS gehef is as straf omdat die munisipaliteit ‘n BTW belastingopgawe laat ingedien het.
Moolman het gesê die DA het al sake by die polisie en Valke aangemeld, klagtes gelê by die Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer en selfs al die munisipaliteit hof toe geneem.
“Die hofroete is moeilik omdat staatsinstansies publieke fondse tot hulle beskikking het om die saak in die hof te beding,” het Moolman gesê. Volgens hom is die enigste roetes wat nog nie gevolg is nie, dié van massaprotes en die weerhouding van belasting is.
Prof. Kobus van der Walt het voorgestel dat sekere kontrakte gekies word wat in die hof beveg moet word, veral daar waar groot bedrae geld vermors word.
Hy het ook voorgestel dat inwoners kan bydra tot ’n regsfonds.
Nog ’n inwoner, mnr. Samuel Mokobane het gesê dat ’n massaprotesaksie in die verlede goed gewerk het, maar dat almal by die protes betrek moet word.
“Dit raak ons almal en drastiese stappe moet gedoen word,” het hy gesê.
’n Lid van AfriForum se Potchefstroom-tak het ook ’n massaprotesaksie gesteun.
“Ons moet almal saamstaan en as dit nie werk nie, weerhou ons ons belasting,” het hy gesê.
‘n Lid van die ANC wat die vergadering bygewoon het, Olebogeng Matebesi, het gesê dat dit sinneloos is om van die munisipale bestuurder ontslae te wil raak.
“Die DA was nog nooit gelukkig met enige munisipale bestuurder nie,” het hy gesê.
Die gevoel onder die gehoor was duidelik dat Potchefstroom in ’n waterskeidingsituasie is.

Exit mobile version