Puk se eerste nie-blanke student oorlede

Die eerste nie-blanke student aan die NWU se Potchefstroomkampus, mnr. Samuel Damons, is op 21 Februarie in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Die eerste nie-blanke student aan die NWU se Potchefstroomkampus, mnr. Samuel Damons, is op 21 Februarie in die ouderdom van 81 jaar oorlede.
Op 31 Maart 1974 het Rapport berig dat die Potchefstroomkampus se heel eerste nie-blanke student, hard aan die studeer is.

Damons het in 1970 ’n B.A.-graad aan Unisa verwerf en sou Kaap toe moes trek om sy honneursgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Wes-Kaapland te voltooi.
Rapport het egter ’n week van tevore berig dat daar nuwe geleenthede vir nie-blanke studente by Afrikaanse Universiteite bestaan, en na aanleiding daarvan het Damons besluit om ’n kans te waag en het op 22 Oktober 1973 aansoek gedoen by die Puk. Op 7 November is hy by die universiteit ingeskryf.

Die berig wat destyds in Rapport verskyn het, toe Damons net begin studeer het aan die NWU se Potchefstroomkampus.

In daardie stadium het hy in Promosa gewoon en was hy die skoolhoof van Hoërskool Promosa.
Sy kleindogter Deonie da Silva, wat deur Damons grootgemaak is, beskryf haar oupa as ’n inspirasie vir almal, en ’n man wat haar en hulle gesin ’n beter lewe wou gee, en het daarom nie ophou groei in sy beroep nie.

Da Silva sê haar oupa het begin as onderwyser, toe departementshoof, onderhoof, hoof en uiteindelik onderwysinspekteur, waar hy baie kinders se lewens aangeraak het.

“My oupa wou nooit daaroor praat nie, maar hy het gehelp om baie kinders se skoolfondse te betaal, sodat hulle matriek kan kry en ook verder kan gaan studeer.”

Da Silva sê dat haar oupa ’n baie kleurvolle beroep gehad het. Omdat hy so suksesvol was, is hy gereeld by nuwe skole geplaas. “As die skool in die moeilikheid is, het hulle my oupa daarheen gestuur – hy was ’n fixer.”

‘n Jonger portret van Samuel Damons.

Da Silva sê dat sy en haar suster as jong meisies soms saam met hom na skole gegaan het en sê dat die mense hom so hoog geag het, dat alles tot ’n stilstand gekom het sodra hy sy voete deur die hekke sit.

Da Silva sê dat haar oupa as kind nie kon skoolgaan nie omdat sy ma nie die finansies daarvoor gehad het nie, maar op ’n dag het ’n barmhartige Samaritaan hom langs die pad sien sit, en besluit om hom te help. Die man, wat tot vandag toe nog naamloos is, het geld ingesamel om Damon deur matriek te sit.

“Hierdie vreemdeling het my oupa die geleentheid gegee om te kom waar hy vandag is, en my oupa het dit weer teruggegee deur ander kinders te help skoolgaan,” sê Da Silva.
“Hy was ’n inspirasie vir ons almal. Die gemeenskap het hom geken as die bruin Madiba.”

Exit mobile version