NewsNews

Onderwyser in hegtenis oor pakslae by skool

‘n Onderwyser is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n leerder met ’n metaalpyp pakslae gegee het.

‘n Onderwyser is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n leerder met ’n metaalpyp pakslae gegee het.
Volgens die kind, Allisandro Phillips (11), was daar twee meisies wat gedurende pouse baklei het. Hy en van sy maats het glo die bakleiery probeer keer. Die meisies het vir die onderwyser vertel dat Allisandro en sy maats hulle geslaan het.

Die kneusplekke waar die kind geslaan is. Foto: Verskaf

“Toe die meneer hulle konfronteer, het een van hulle ja en die ander een nee gesê. Daarna het hy ons ingeroep en pakslae gegee met die pyp,” vertel hy.
Hy het by die huis gekom en sy ouma daarvan vertel wat dit weer aan sy pa, Max Phillips, vertel het.
“Ek was woedend, ek het gebel om te hoor wat aangaan. Ek het met die onderwyser gepraat wat gesê het hy wil verduidelik.”
Hy is glo skool toe met ’n vuurwapen. Die onderwyser het met die pa se aankoms gevlug.
“Ek was baie kwaad, as die onderhoof my nie kalmeer het nie, het die koerant ‘n ander storie geskryf”, sê hy.
Die pa het ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanhangig gemaak. Konst. Kelebogile Trom, polisiewoordvoerder, het die saak bevestig.
Volgens die pa was hy die volgende dag by die hoof se kantoor, waar hy glo die gedrag van die onderwyser probeer regverdig het.“Hy het gesê dat daar klaar ’n saak is, en dat hy niks verder kan doen nie.
Phillips sê die prosedure dat as kinders iets gedoen het, die skool die ouers laat weet om skool toe te kom, is nie gevolg nie. Ek is nou bang my kind word geviktimiseer,” sê hy.
Die pa het die voorval ook by die Noordwes Onderwysdepartement gaan rapporteer. Die hoof, mnr. Clement Adams, het die Herald ook na die departement verwys.
Teen druktyd het die Herald nog geen kommentaar van die departement ontvang nie.

Related Articles

Back to top button