Die gesig van Potch, onversorg

Voor jou staan iemand, die diep lyne oor die gesig getuig van ’n harde pad wat geloop is. Kneusplekke, ou wonde en onversorgde hare is kenmerkend van die persoon. Die persoon is Potchefstroom.

Voor jou staan iemand, die diep lyne oor die gesig getuig van ’n harde pad wat geloop is. Kneusplekke, ou wonde en onversorgde hare is kenmerkend van die persoon.


Die persoon is Potchefstroom. Raadslede hanteer byna daagliks klagtes oor hoe vuil en onversorg die stad is. Oor vuilgoed in die strate, lang gras op die sypaadjies, slaggate en straatligte wat nie werk nie. Tog blyk dit dat niks hieraan gedoen word nie.


’n Dokument wat die Herald onder oë gehad het wys dat die afdeling wat verantwoordelik is vir die instandhouding van munisipale parke, sypaadjies, tuine en openbare ruimtes erg onderbeman is. Dit blyk ook dat slegs 40% van die voertuie tot die afdeling se beskikking, in ’n werkende toestand is. Ook dat die afdeling nie ’n groot genoeg begroting het om die vakante poste te vul nie. Die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF) wat patrollies ry in die suide van die stad, het ’n lys opgestel van straatligte wat nie werk nie.


Dit wys dat daar ligte in 22 strate net aan daardie kant van die stad nie werk nie. Dit gepaard met die lang gras veroorsaak volgens hulle ’n ernstige veiligheidsrisiko vir inwoners. Volgens Hans-Jurie Moolman, DA koukusleier, word ’n omgewing geskep waar daar vir misdadigers gesê word dat hulle kan maak soos hulle wil. Volgens ’n inwoner is dit so bebos naby die Ikalafeng Skool dat rooftogte gereeld daar plaasvind. Selfs die kinders word van tyd tot tyd geteister. In Uitbreiding 9 langs die N12 is daar geen ligte nie. Daar is glo hoogmasligte opgesit maar dit werk nog nie.
Die Herald probeer al twee weke om kommentaar van die munisipaliteit te kry, maar teen druktyd was daar steeds geen reaksie nie.

Exit mobile version