Verkragtingslagoffer praat oor traumatiese ervaring

Vasgebind, hulpeloos met die dreigement van “ek sal jou skiet” wat oor haar kop hang. Sy het gehoor hoe gaan sy gordel los, toe weet sy wat op pad is. Dit is die situasie waarin ’n 18-jarige matriekleerder haarself verlede jaar bevind het.

Dustin Wetdewich
Vasgebind, hulpeloos met die dreigement van “ek sal jou skiet” wat oor haar kop hang. Sy het gehoor hoe gaan sy gordel los, toe weet sy wat op pad is.
Dit is die situasie waarin ’n 18-jarige matriekleerder haarself verlede jaar bevind het.
Die meisie, wat anoniem wil bly omdat die verdagte nog nie in hegtenis geneem is nie, was verlede jaar die slagoffer van ’n verkragting tydens ’n huisroof by haar vriend se huis in Bailliepark.
Nadat sy saam met haar vriend en vriendin by die voordeur deur vier gewapende mans oorval is, is hulle die huis ingedwing waar hulle vasgemaak is.
“Hulle het die heeltyd vir ons gesê dat ons nie bekommerd moet wees nie en dat hulle niks aan ons gaan doen nie. Net daarna het hulle ons na drie verskillende kamers in die huis geneem,” vertel sy.
Een van die mans het in die kamer ingekom en aan haar begin vat. Hy is kort-kort uit, waarna hy teruggekom het. Met sy terugkeer het hy vir haar gevra of sy ’n maagd is. Sy het geantwoord dat sy is.
“Ek het net gehoor hoe gaan sy gordel los, toe weet ek wat gaan gebeur,” het sy gesê.
Die man het haar daarna verkrag.
“Ek het eers probeer wegruk en terugbaklei, maar toe hy sê dat hy my sal skiet, het ek maar stil gelê.”
Kort daarna het een van die ander rowers in die kamer ingekom en gesien wat besig is om te gebeur.
Volgens die vrou het die man dadelik opgehou en vinnig uit die kamer gegaan. Sy moes die volgende dag haar tweede laaste vraestel skryf. Sy het vertel hoe sy die hele tyd gebid het dat die Here hulle moet veilig hou.
“Ek was eers kwaad vir die situasie omdat ek gebid het en toe gebeur so iets met my.
“Maar ek het later besef dat die Here ons almal lewendig daar laat uitstap het. Hy sal nooit iets op jou pad laat kom wat ’n mens nie kan hanteer nie,” vertel sy.
Sy het haar laaste vraestelle geskryf en ’n onderskeiding in een van die vakke met slegs 2% misgeloop. Sy studeer tans deur Unisa.
“Baie mense het my bygestaan en ondersteun, veral my ouers. Ek het net besluit ek gaan aan met my lewe, ek is sterker as die man wat dit aan my gedoen het, ek sal nie toelaat dat hy wen nie,” vertel sy.
Sy sê dat dit goed is om daaroor te praat, dat dit dan makliker is om te verwerk.
“Om iemand te hê wat ook in dieselfde situasie was, wat jou bystaan en ondersteun, help baie.
Dit maak dat jy nie so alleen voel nie, dat daar iemand is wat verstaan hoe ek voel,” vertel sy.
Santi Britz, wat self sewe jaar gelede in haar huis verkrag is, het die meisie bygestaan en heeldag saam met haar spandeer.
Sy het die Herald gekontak om haar storie te vertel nadat sy gelees het van die vrou wat op die Bult verkrag is en die tiener wat op pad van die skool af verkrag is.
As een van hulle met haar in kontak wil kom kan hulle die Herald by dustin.wetdewich@media24.com kontak om haar besonderhede te kry.

Lees ook: Roof en verkragting skok

 

Exit mobile version