Veertien vas oor dwelms

Die polisie het oor die verlede naweek 14 mense vir die besit van onwettige dwelms in hegtenis geneem.

Die polisie het oor die verlede naweek 14 mense vir die besit van onwettige dwelms in hegtenis geneem.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is die meeste van die verdagtes tydens stop- en deursoek-optredes van die polisie aangekeer.
In een van die voorvalle is ses mense Vrydag 17 Februarie omstreeks 11:00 by ’n huis in Dwarsstraat in hegtenis geneem, nadat die polisie inligting ontvang het oor dwelms wat daar verkoop word.

“Die polisie het by die huis aangekom waar hulle ses mense gevind het. Gedurende die soektog het hulle dwelms onder die houtvloere van die huis gevind,” het Manyoba gesê.

Die gebiede waar die meeste mense in hegtenis geneem is, is Dwarsstraat en Walter Sisulu-rylaan. Manyoba het by navraag gesê dat daar moontlik ’n verbintenis tussen inbrake en diefstal uit voertuie en dwelmverwante misdaad is. Hoewel die polisie nog hulle amptelike misdaadsyfers vir die kwartaal moet bekend maak, blyk dit dat die aantal dwelm-arrestasies ’n positiewe uitwerking op die aantal inbrake en diefstal het.
Die Herald het vertroulik verneem dat daar verlede jaar oor dieselfde tydperk byna 90 inbrake gerapporteer is, terwyl daar vanjaar nog net sowat 40 sake aangemeld is. Diefstal van voertuie het glo met sowat 40 sake verlede jaar dié tyd, na minder as tien verminder.
“Dit is moontlik dat die ekstra aandag wat aan dwelmverwante misdaad gegee word dalk die inbraak- en diefstalsyfer positief kan beïnvloed. Dit is bekend dat dwelmverslaafdes enige geleentheid sal gebruik om iets te steel sodat hulle nog dwelms kan bekom.

Daar sal egter meer navorsing daaroor gedoen moet word om verseker te weet,” het Manyoba gesê. Die belangrikheid is ook uitgelig om ’n inventaris te hou van besittings met reeksnommers of selfs foto’s van elke item sodat wanneer dit gesteel word en deur die polisie teruggevind word, dit aan mense terugbesorg kan word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version