Besigheid begin weer na brand

’n Sakeonderneming in Du Plooystraat is Sondagaand tydens ’n brand totaal verwoes.

’n Sakeonderneming in Du Plooystraat is Sondagaand tydens ’n brand totaal verwoes.
“Die brand het ons besigheid 20 jaar teruggesit. Ek het nou weer net twee voertuie en begin by ’n nuwe perseel. Ons het alles verloor,” sê André Hallaby, eienaar van Plumblead, wie se gebou afgebrand het.


Die brand het glo Sondagaand omstreeks 22:00 begin, waarna dit tot Maandag in die vroeë oggendure gebrand het.
Volgens Hallaby het hy sy verjaarsdag, wat Maandag was, Sondagaand saam met sy familie gevier.
“Ek het net in die bed geklim toe ons die oproep kry,” vertel hy.
Hulle het hul daarheen gehaas waar ‘n skrikwekkende gesig op hulle gewag het.

Lees ook: Huis brand twee keer op een dag
“Mens kan nie die gevoel aan mense beskryf nie. Hulle het vir my gesê dit brand, maar toe ek daar kom, sien ek die hel is in daai gebou,” probeer Hallaby verduidelik hoe hy die aand gevoel het.


Hy het kaalvoet by die gebou opgedaag en dadelik ingespring om die brandweer te probeer bystaan. Selfs nadat die brand onder beheer gebring is, het hy op die toneel gebly. Hallaby sê hy was tot 08:00 die oggend, op sy verjaarsdag, nog by die gebou waarna hy gaan stort en weer teruggekeer het.
“Ek was Maandag tot 16:00 nog by die gebou en mense het ons kom onderskraag,” vertel hy.

Lees ook: Enkelma verloor alles in brand
Die Hallaby familie sê hulle is dankbaar teenoor die gemeenskap wat hulle bygestaan het.
“Elke oproep, drukkie en boodskap beteken vir ons baie. Ons waardeer regtig al die opregte en lojale mense in Potchefstroom.”
Dié ramp het Hallaby en sy vrou, Fatima, nie ondergekry nie. Hulle het reeds ’n nuwe perseel in Lombardstraat gekry waaruit hulle nou vir ten minste ses maande sake gaan bedryf.


“Ek was in 2007 in ’n erge motorongeluk en nou dit. Maar dit is deel van mens se beproewings. Ons moet net op ons knieë bly en opkyk. Ons het duisende kliënte wat gediens moet word, so ons kan nie stilsit nie,” sê hy.
Woensdagoggend is die oorblywende voertuie al uitgestuur om kliënte te diens.
Teen druktyd was dit nog nie bekend wat die presiese oorsaak van die brand was nie.

Lees ook: Brand verwoes huis, baba-hondjie dood

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version