Vrou in hegtenis na twee fietsryers se dood

‘n 46-jarige vrou is op Nuwejaarsdag in hegtenis geneem na die dood van twee fietsryers.

‘n 46-jarige vrou is op Nuwejaarsdag in hegtenis geneem na die dood van twee fietsryers.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 03:00 op die Kromdraaipad naby Harpington plaasgevind. Die vrou, Elfrieda Smit, het na bewering die twee op hulle fietse raakgery waarna sy glo die toneel verlaat het om hulp te gaan soek.
Familielede van die oorledenes het op die voertuig afgekom waar hulle die twee se lyke gesien het. Die polisie is dadelik in kennis gestel waarna hulle na die toneel is. Kort nadat die polisie omstreeks 06:00 op die toneel gekom het, het Smit weer op die toneel opgedaag.
Volgens Chaka is die vrou in hegtenis geneem op twee klagtes van strafbare manslag, bestuur sonder ’n wettige lisensie en die bestuur van ’n ongelisensieerde voertuig. Smit het op 3 Januarie in die hof verskyn waarna sy op borgtog van R1 000 vrygelaat is. Die saak is tot 22 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel.

Exit mobile version