Inbrake en diefstal neem toe gedurende feestyd

Diefstal en inbrake in vergelyking met 2015 se feestyd, het byna verdubbel.

Diefstal en inbrake in vergelyking met 2015 se feestyd, het byna verdubbel.
Dit is volgens Mooirivier Beskerming se statistiek vir Desember 2016.
Tydens Desember het daar 34 voorvalle van inbraak en 33 gevalle van diefstal plaasgevind. In 2015 was daar onderskeidelik 16 en 10 gevalle.
In een geval is daar op 2 Januarie by agt studentewoonstelle in een kompleks in Reitzstraat ingebreek. Almal se vensters is oopgemaak, waarna die diefwering afgebreek is. Die Bult en die besigheidskern het oor Desember die meeste misdaad ervaar. Daar het 35 misdade in die besigheidskern en 37 op die Bult plaasgevind. Die meeste hiervan was diefstal, inbraak en diefstal uit voertuie. Voor die feestydperk het die polisie veral studente gewaarsku om hulle mees waardevolle besittings saam met hulle huis toe te neem. Elke jaar gedurende vakansies word veral studentebehuising deur misdadigers geteiken. Meeste van die inbrake kom eers na die vakansie aan die lig.
Mooirivier Beskerming het 140 misdade in Desember aangeteken. Die area met die meeste misdaad oor Desember was die Bult en die area met die minste misdaad was Miederpark.
Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, beklemtoon dat hulle eie statistiek net na voorvalle verwys waar hulle self betrokke was en nie noodwendig ’n ware refleksie is van misdaad in Potchefstroom nie.

Exit mobile version