Slote op die Bult bedreig historiese grafte

“As hulle gaan grawe soos wat hulle beplan om te grawe, gaan hulle reg deur die begraafplaas grawe,” sê Johan Wolfaard, voorsitter van Erfenis Potchefstroom.

Die DA is bekommerd oor slote wat deur die munisipaliteit in Molenstraat gegrawe word, omdat dit baie naby aan ’n historiese begraafplaas is en dit die gevaar inhou dat ou Voortrekker-grafte oopgegrawe kan word.
“As hulle gaan grawe soos wat hulle beplan om te grawe, gaan hulle reg deur die begraafplaas grawe,” sê Johan Wolfaard, voorsitter van Erfenis Potchefstroom.
Die DA het ’n dringende skrywe aan die burgemeester en munisipale bestuurder gerig om hulle hierteen te waarsku. Hulle eis dat ’n erfenis impak-assessering eers gedoen moet word om vas te stel of die slote moontlik dié historiese grafte kan versteur, voordat daar voortgegaan word met die projek.
“As daar ’n risiko is dat enige menslike oorskot versteur kan word, moet die munisipaliteit dadelik die projek staak en herontwerp,” sê DA raadslid Bertus le Roux.
Volgens die Suid-Afrikaanse Erfenis Hulpbronne Wet is dit onwettig om enige begraafplaas te versteur.
“Die DA respekteer alle kulture en erfenis en omdat hierdie begraafplaas terug dateer tot 1838 is dit van historiese belang,” sê Le Roux.
Dit is nie die eerste keer dat daar in die area gegrawe word nie en daar is al by meer as een geleentheid op ou kiste en beendere afgekom.
In Junie 1957 het munisipale werkers op ’n verweerde kis met doodsbeendere afgekom terwyl hulle besig was om ’n miernes in Molenstraat op die sypaadjie oorkant die Gereformeerde Kerk uit te grawe.
’n Voormalige kurator van die Potchefstroomse museum, JV Coetzee, het geskryf dat in 1919 daar ook op die sypaadjie in Molenstraat gegrawe is vir die aanlê van waterpype. Daar is toe op ’n halfdosyn ou kiste en geraamtes afgekom. Hierdie grafte is toe opgegrawe en in Bailliepark herbegrawe tydens ’n roudiens wat later vir dié Voortrekkers gehou is.

‘n Lugfoto wat aandui waar die munisipaliteit tans werk en waar die grafte is. Illustrasie

Volgens Coetzee is daar tussen 25 en 30 grafte in die area wat blykbaar tussen Molenstraat 71 en 79 geleë is. Die vermoede is dat die weduwee van die Voortrekkerleier, Piet Retief, ook daar begrawe is. Wolfaard sê deur die jare het daar beendere van die grafte uitgespoel en is dit weer by die monument by die Vyfhoek Konsentrasiekamp herbegrawe. Hy sê hoewel daar nie nou vasgestel kan word of daar enige beendere in die begraafplaas oor is nie, stel hy voor dat ’n argeoloog eers ’n toetsopgrawing doen en enige verdere beendere dan elders herbegrawe voordat die munisipaliteit dalk per ongeluk ’n graf versteur.
Die woordvoerder van die stadsraad, Willie Maphosa, sê hulle is nie seker na watter historiese begraafplaas verwys word nie, maar drie jaar gelede is daar ook elektriese kabels in die straat gelê en niemand het toe gekla nie. Hy sê egter dat hul tegniese personeel ondersoek sal instel.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version