NewsNews

Oscar sweef met goue vlerke na bo

Oscar is een van sowat 500 sweeftuig vlieëniers in die land, en het onlangs ‘n tweede plek behaal in die FAI (The World Air Sports Federation) Sailplane Grand Prix Finale rondtes wat hier in Potchefstroom gehou is.

Potchefstroomse besigheidsman en familieman Oscar Goudriaan het, soos meeste ander mans, ‘n stokperdjie, maar eerder as om gholf te speel of vis te vang oor naweke, sweef hy kilometers bo die aarde terwyl hy die natuur wys wie baas is.
Oscar is een van sowat 500 sweeftuig vlieëniers in die land, en het onlangs ‘n tweede plek behaal in die FAI (The World Air Sports Federation) Sailplane Grand Prix Finale rondtes wat hier in Potchefstroom gehou is. Hy was die enigste Suid-Afrikaner wat aan hierdie weeklange wedren deelgeneem het, en het seker gemaak hy eindig op die podium.
In Januarie 2017 gaan hy weer Suid-Afrika en Potchefstroom verteenwoordig in Australië, waar hy en van sy mede-klublede gaan deelneem aan die 34ste FAI Sweeftuig Wêreldkampioenskappe waar 130 ander vlieëniers van 28 lande gaan meeding. Oscar is een van ses Suid-Afrikaners wat gaan deelneem, en al ses dié deelnemers is in Potchefstroom se sweeftuigklub.
Oscar het die eerste keer alleen ‘n sweeftuig gevlieg op die ouderdom van 16, maar hy is al van kleins af bekend met dié vlieënde voorwerpe. Sy oorlede pa, Klaas Goudriaan was ook ‘n kampioen sweeftuig-vlieënier en Oscar en sy broer Louwrens het letterlik tussen die sweeftuie op die lughawe grootgeword. So het hy die sweeftuie leer ken en ‘n liefde daarvoor ontwikkel. “Ek doen dit al my hele lewe lank,” sê hy.
Vandag is Oscar beslis een van Suid-Afrika se beste sweeftuig-vlieëniers. Hy was in 2001 wêreldkampioen en in 2012 was hy derde by die wêreldkampioenskappe. Hy het nou al in totaal amper 5 000 uur in ‘n sweeftuig gevlieg vandat hy begin het in 1983.
Alhoewel hy baie uitsien na Januarie se kampioenskap, gaan dit hul sakke baie ruk. Die meeste van hulle uitgawes kom uit hul eie sakke omdat hulle geen befondsing van die regering kry nie, en borge is skaars. Slegs hul intreefooie word deur die Suid-Afrikaanse Assosiasie van Sweeftuie gedek, verder moet hulle self geld insamel om daar te kom en al hul kostes te dek.
Oscar is gelukkig om een van die stigters te wees van die mees aktiewe en een van die grootste sweeftuigklubs in Suid-Afrika, Akavlieg Potch Gliding. Hulle vlieg gereeld saam en moedig mekaar aan om deel te neem aan soveel moontlik kompetisies, maar hy voel dat hulle ‘n tekort het aan internasionale blootstelling omdat hulle nie altyd die finansies het om aan al die groot internasionale kampioenskappe deel te neem nie.
“Ek sien baie uit na die kompetisie, dit gaan baie lekker wees,” sê hy. Al is hy ‘n baie kompeterende mens, doen hy dit nie vir die geld nie, want om ‘n sweeftuig-vlieënier te wees is ‘n baie duur stokperdjie, en daar is selde tot nooit kontantpryse te wen by kompetisies nie. Hierdie is ‘n sport wat hy doen vir die plesier en opwinding daarvan. “’n Vriend van my het gesê sweef is soos ‘n driedimensionele skaakspel. Dis baie strategies en takties, en om te wen moet jy werklik jou opponent uitoorlê met die besluite wat jy neem.”
“Om ‘n sweeftuig-vlieënier te wees beteken jy moet weet hoe om die natuur te lees, daarmee te kommunikeer en dit dan tot jou voordeel te gebruik. Die feit dat daar soveel meer is tot sweeftuig vlieg as om net deur die lug te sweef, is wat dit vir Oscar so lekker maak. Hy geniet dit om te moet dink, analiseer en kritiese besluite te moet maak – dit dryf hom, en dit dryf sy sweeftuig.
Oscar gaan van 8 tot 21 Januarie in Benalla, Australië wys hoe ‘n passie vir sweef hom op ‘n podium gaan laat beland en gaan hopelik terugkeer as 2017 se wêreldkampioen sweeftuig-vlieënier.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button