Brawe jong vrou veg met rower

“Die polisieman het vir my gesê dat sy baie braaf is, enigiemand anders sou dood gewees het,” vertel Maryna Heinenman, nadat haar dogter vroeg Woensdagoggend tydens ’n huisroof aangeval is.

“Die polisieman het vir my gesê dat sy baie braaf is, enigiemand anders sou dood gewees het,” vertel Maryna Heinenman, nadat haar dogter vroeg Woensdagoggend tydens ’n huisroof aangeval is.
Volgens haar dogter, Danielle Denton (22), wat in ’n woonstel buite die huis woon, het sy wakker geword toe sy ’n geluid in die badkamer hoor.


“Ek het uitgeloop om te gaan kyk wat aangaan, toe loop ek in die rower vas.”
Sy het dadelik met die rower begin baklei, waarna hy ’n matmes uitgehaal het om haar mee aan te val.
“Hy het my gestamp dat ek op die bed val. Ek het gekeer vir my gesig en nek,” vertel sy.
Haar aanvaller het haar selfoon en bankkaart gegryp voor hy weer deur die venster gevlug het.
“Dit was omtrent 02:20 toe sy by die deur kom skree dat iemand in die woonstel was. Ons het om gehardloop waarna my man gaan kyk het of hy nie die verdagte sien nie. Ek het die polisie gebel,” vertel Heinenman.
Volgens haar was die polisie binne vyf minute by hulle huis.
“Ek het groot geskrik, want daar was bloed teen die mure soos Danielle en die man baklei het. Die polisie was regtig wonderlik, hulle het vinnig reageer, verklarings geneem en die forensiese span was daar om foto’s en vingerafdrukke te neem. Teen 05:40 was hulle klaar met alles,” vertel sy.
Die polisie het ook die familie deurgaans bygestaan en oral hulp aan gebied vir Denton as sy onder meer berading sou benodig.
“Ek kan nie genoeg dankie sê vir almal wat ons bygestaan het nie, die GPF, Mooirivier Beskerming, Leon Nel van IMR Ambulansdienste wat kom kyk het of alles reg is, AfriForum en ook die polisie. Dit was waarlik ongelooflike bystand van die gemeenskap af. Dit kon regtig baie erger gewees het,” vertel Heinenman. Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar is daar nog niemand in hegtenis geneem nie en ’n saak van huisroof word ondersoek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version