NewsNews

Kaartbedrog bly probleem in Potch

Nog twee sake van kaartbedrog is verlede week in Potchefstroom aangemeld.

Nog twee sake van kaartbedrog is verlede week in Potchefstroom aangemeld.

Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het albei voorvalle dieselfde modus operandi gevolg.
“Die mense het nog by die huis gesit waarna hulle per SMS ingelig is dat daar geld uit hulle rekeninge getrek is of daar is aankope met hulle kaart gedoen,” het Manyoba gesê.
Die Herald het onlangs berig dat daar teen verlede maand al om en by 100 sake van kaartbedrog in drie maande aangemeld is.
Ria van Nieuwenhuizen, ’n slagoffer van kaartbedrog, het onlangs R2 000 verloor. Sy is baie ongelukkig met haar bank omdat volgens haar daar ’n swak plek in hulle sisteem is wat uitgebuit word.
“Hulle het my eis afgekeur, basies uitgemaak dat ek nalatig was daarom gaan hulle nie my geld terugbetaal nie,” het sy aan die Herald gesê.
Volgens Manyoba is die nuutste gevalle van twee verskillende banke. Die een geval het die slagoffer in Maherrystraat die laaste keer sy kaart gebruik terwyl in die ander voorval die slagoffer sy kaart laas in Govan Mbekirylaan gebruik het. Beide slagoffers het met hulle kaarte vir goedere betaal, kort waarna hulle boodskappe ontvang het dat geld uit hulle rekening is.
Die Valke het op 27 Oktober met ‘n veldtog in Potchefstroom begin om mense teen kaartbedrog te waarsku.
Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in Noordwes, het inwoners gemaan om versigtig te wees wanneer hulle met hulle kaarte betaal.
“Moet nooit geld trek by ’n OTM wat lyk of daarmee gepeuter is nie. Dieselfde geld vir kaartmasjiene,” het sy gesê.
Volgens haar is daar sedert Januarie al tien verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op 50 gekloonde kaarte en drie kaartkloontoestelle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button