Moenie dagga gebruik as jy eksamen skryf

“Die persoon wat dagga rook gaan dalk kalm en rustig voel terwyl hy eksamen skryf, maar sy punte gaan soos rook by die eksamenlokaal se venster uitwaai.”

“Die persoon wat dagga rook gaan dalk kalm en rustig voel terwyl hy eksamen skryf, maar sy punte gaan soos rook by die eksamenlokaal se venster uitwaai.”
So sê ‘n sielkundige van Potchefstroom, André Vos. Vos het navorsing gedoen oor die uitwerking wat die rook van dagga op studente se studies het. Dit het oor en oor aan hom bewys dat die rook van dagga rokers se korttermyngeheue beïnvloed. “Die strawwe daggaroker voltooi selde sy studies suksesvol en navorsing het bewys dat daggarokers veral swakker presteer in geheuetoetse,” sê hy.
In ‘n onlangse studie het hy gelees dat daar bevind is dat die gaping al hoe groter word, hoe langer iemand aanhou om dagga te rook. Dit wil sê dat vir elke jaar wat iemand dagga rook, hul geheue net meer sal verswak. “Nuwe navorsing wat in die JAMA internasionale mediese joernaal gepubliseer is, het bevind dat die kroniese rook van dagga permanente korttermyngeheue-skade kan veroorsaak.”
Prof. Reto Auer van die Universiteit van Lausanne in Switserland het ’n studie gedoen wat bewys dat persone wat oor ’n lang periode dagga gebruik het (meer as vyf jaar), swakker verbale geheue het in hul middeljare as diegene wat nie dagga gerook het nie. Die navorsing het bewys dat kognitiewe vermoëns soos geheue, fokus en die vermoë om vinnige besluite te neem, veral aangetas word. “Hierdie vermoëns is baie belangrik in die leerproses, en as dit aangetas is, gaan die student swak vaar in die eksamen.” Volgens Vos kan studente of leerders wat gereeld dagga gebruik en ook sensitiewe genetiese neurofisiologie het, maklik psigiatriese siektes ontwikkel soos skisofrenie of bipolêre versteuring. Hy sê dat studente wat veral sukkel met algemene angsversteurings, depressie probleme, paranoia en sosialisering, maklik slagoffers van so ‘n psigiatriese siekte kan word. “Wanneer so ’n student of leerder ook begin om psigotiese simptome te ervaar voor eksamens, is dit dan nie net sy geheue wat aangetas is nie, maar ook rasionele denke en hierdie kombinasie is fataal.”
* Lees meer oor die newe-effekte en ander interessanthede oor dagga op Potchefstroom Herald se webtuiste by www.potchefstroomherald.co.za

Exit mobile version