OPVOLG: Twee rowers gewond met skietery tydens plaasaanval

Twee verdagtes is Dinsdag omstreeks 07:30 tydens ‘n plaasaanval gewond.

Twee verdagtes is Dinsdag omstreeks 07:30 tydens ‘n plaasaanval gewond.
Die aanval het ongeveer 15km buite Potchefstroom naby Boshoek plaasgevind. Volgens konst. Elsie Tshonte, polisiewoordvoerder, het ses gewapende mans ’n plaaswerker by sy huis oorval. Hulle het die werker met ’n mes gedreig, waarna hy gedwing is om op die grond te lê. Die verdagtes het hom daarna van sy besittings beroof.
Intussen het die plaaseienaar by die werker se huis aangekom op soek na hom. Toe die verdagtes hom sien, het hulle ’n vuurwapen op hom gerig en hom aangerand.
Die boer se vrou en skoonma wat ten tyde van die voorval in die voertuig was, het hulself in die voertuig toegesluit en dadelik die plaaslike owerhede en boere in die omgewing ontbied. Die verdagtes het die voertuig se vensters gebreek, waarna hulle van die besittings wat in die voertuig was, gesteel het,” sê Tshonte.
Boere in die omgewing het vinnig gereageer en met hulle aankoms het die verdagtes in verskeie rigtings gevlug.
“Terwyl hulle gevlug het, het hulle op die boere begin skiet. Daar is teruggeskiet, waartydens twee verdagtes gewond is,” sê Tshonte.
Paramedici van ER24 het die twee vir skietwonde aan hulle bene behandel waarna hulle onder polisiebegeleiding deur die provinsiale ambulansdienste na die Laratong hospitaal geneem is vir verdere behandeling. Die soektog na die ander vier verdagtes duur voort.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version