Water- en elektrisiteitsrekeninge laat inwoners rooi sien

Talle inwoners het onlangs gelyktydig ’n abnormale styging in hulle water- en elektrisiteitsrekeninge ervaar.

Talle inwoners het onlangs gelyktydig ’n abnormale styging in hulle water- en elektrisiteitsrekeninge ervaar.
Die meeste se rekeninge was gemiddeld R1 000 meer as in die vorige maande. Een inwoner se rekening het sommer van R175.29 na R422.57 gestyg. Sommige inwoners het rekeninge van meer as R30 000 ontvang.
Nadat dit bevraagteken is, moes sommige inwoners uitvind dat hulle vir dienste en watergebruik op leë erwe wat hulle besit, ’n rekening gekry het. Dié probleem is intussen reggestel, hoewel dit vir die meeste ander inwoners nie so maklik was nie. Die meeste van die ander inwoners is bloot op navraag gesê dat hulle die rekening moet betaal, anders loop hulle die risiko dat die munisipaliteit hulle elektrisiteit sal kom afsit.
Hans Jurie Moolman, voorsitter van die DA koukus, het dieselfde oorgekom. Volgens hom het die munisipaliteit vir hom gesê omdat hulle nie kon toegang kry tot sy erf nie, het hulle ’n skatting gedoen.
“In die verlede het die munisipaliteit ’n nota op ‘n mens se hek gelos as hulle nie kon toegang kry tot die erf nie,” het Moolman gesê.
’n Uiteensetting van een inwoner se meterlesings het gewys dat by sy erf in 2012 laas ’n meterlesing geneem is. Die kontrakteur het die afgelope vier jaar die meterlesing geskat. Tog kon hy vir Augustus ’n lesing neem, waarna daar gesien is dat die geskatte lesings oor die tydperk heelwat minder was as die werklike gebruik. Daarom is daar gekompenseer vir die onderskatting met die nuutste rekening.
Die inwoner het foto’s aan die Herald gewys van waar die meter lê. Die meter is teen die straat wat heeltemal toeganklik is vir die meterlesers. Paws het ook deurgeloop nadat hulle water- en elektrisiteitsrekening byna verdubbel het. Dit blyk dat hulle meter ook sowat ’n jaar laas ordentlik gelees is, tot en met Augustus.
Volgens Moolman is dit vreemd dat almal gelyktydig kla oor abnormale hoë rekeninge, ook dat in die gevalle waar lesings nie geneem was nie, dit ewe skielik gedoen kan word.
Die meeste inwoners het op sosiale media beweer dat die munisipaliteit nou probeer om soveel as moontlik geld in te vorder om die skuld wat by die Ventersdorp Munisipaliteit geërf is, te help betaal.
Herman Freysen beweer dat daar fout is met hulle meter, maar dat die munisipaliteit hom R450 vra om die meter te kom toets. Volgens hom het hulle al nege maande gelede ’n kragdraad tydelik kom herstel, maar die drade lê nog net soos hulle dit gelos het.
“Dit was veronderstel om net ’n tydelike oplossing te wees. Hulle het gesê hulle kom die volgende dag terug, maar was nou nog nie hier nie,” het hy gesê.
Die hooggeregshof het in Junie vanjaar bevind dat die onus by ’n betrokke munisipaliteit lê om te bewys dat die meterlesings van ’n rekening in dispuut korrek is.
Volgens William Maphosa, munisipale woordvoerder, probeer die munisipaliteit elke maand by alle erwe ’n meterlesing neem. In die geval wat daar nie ’n lesing geneem kan word nie, maak die sisteem ’n skatting gebaseer op vorige maande se lesings.
Die skatting wys op die inwoner se rekening. Dit is dan die verantwoordelikheid van die rekeninghouer om die munisipaliteit te nader sodat die regte lesing deurgegee kan word en die situasie reggestel kan word.
“Bewerings dat tariewe onregverdig opgeblaas word om die skuld van Ventersdorp te dek is heeltemal ongegrond. Die eertydse munisipaliteite van Ventersdorp en Tlokwe het afsonderlik begroot volgens verskillende tariefstrukture. Die twee begrotings word afsonderlik gehardloop vir die huidige boekjaar en sal slegs in Julie 2017 geïntegreer word,” het Maphosa gesê.
Hy het alle inwoners wat dieselfde probleme ondervind, versoek om die munisipaliteit se rekening-afdeling te kontak om die situasie op te los.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version