CommunityNews

Aardklop skop af met ʼn safari deur die kunste

Gisteraand het Aardklop behoorlik afgeskop met die jaarlikse Kunssafari waar kunsliefhebbers bymekaar kon kom om die fyner dinge in die lewe soos wyn, kaas en asemrowende kunswerke van orals in Suidelike Afrika te geniet.

Die safari het begin by die NWU Botaniese Tuine Galery waar almal ʼn drankie kon geniet terwyl hulle na die eerste uitstalling, The Modern Condition, kon kyk. Hierdie is ʼn uitstalling deur kontemporêre kunstenaar, Jody Olën, wat die aannames van natuur en realiteit uitdaag. Dit is ʼn introspektiewe reis en Olën se teenmiddel vir die era van angs.

Rudi van der Merwe en Merna Meyer. Foto: Marianke Saayman
Rudi van der Merwe en Merna Meyer. Foto: Marianke Saayman

Na dit het die safari-reisigers na die tweede uitstalling by die Sanlam Ouditorium gaan kyk. Hier het seremoniemeester Alanka Craffert ʼn woord of twee gespreek en die gehoor bekend gestel aan feesbestuurder, Alexa Strachan, en die kurator vir die Aardklop visuele kunsteprogram, Christina Naurattel.

Christina Naurattel, hoofkurator van die visuele kunsteprogram by Aardklop. Foto: Marianke Saayman
Christina Naurattel, hoofkurator van die visuele kunsteprogram by Aardklop. Foto: Marianke Saayman

Die uitstalling hier, #sitditaf, gaan oor sensuur en vryheid van spraak. Die idee van die uitstalling kom vanaf Heidi Erdman, ʼn baie ervare vrou in die kunsbedryf. Sy is ook baie betrokke by die Universiteit van Kaapstad en het met Naurattel in gesprek getree oor die #feesmustfall-beweging. Hierdie uitstalling hou verband met Johannes Kerkorrel as oud-student aan die NWU-Puk en die sensuur en onderdrukking van vryheid van spraak wat destyds toegepas is.

Feesbestuurder Alexa Strachan. Foto: Marianke Saayman
Feesbestuurder Alexa Strachan. Foto: Marianke Saayman

“Ons word steeds gekonfronteer met die kontensieuse kwessies van sensuur en vryheid van spraak, veral met verwysing na die #feesmustfall-beweging asook die gebeurtenisse by die SAUK,” sê Naurattel. Volgens haar herhaal hierdie hedendaagse kwessies hulself vanuit die verlede, en vir baie studente is die Voëlvry-beweging ʼn onbekende konsep waaraan hulle nou weer blootgestel word.

Alanka Craffert was die seremoniemeester by die Kunssafari. Foto: Marianke Saayman
Alanka Craffert was die seremoniemeester by die Kunssafari. Foto: Marianke Saayman

Daarna het die feesgangers na die Alumnisaal beweeg waar kunswerke van die uitstallings Urban Impressions, Saadjies, Crossing Borders, Divine, Rowland Daniels Sculpture, Tiro en Filmverse 2 gesien kon word. Die gaste is ook vermaak deur plaaslike musiekgroepe Red Wine Acoustics en Run Forest.

Run Forest. Foto: Marianke Saayman
Run Forest. Foto: Marianke Saayman
Red Wine Acoustics. Foto: Marianke Saayman
Red Wine Acoustics. Foto: Marianke Saayman

Volgende was die uitstalling by die NWU Hoofgalery naamlik MTN Figuratively Speaking. Hierdie uitstalling bestaan uit ʼn versameling werke wat gekies is deur Naurattel en die hoofborg MTN Foundation. Dit is die eerste keer in 20 jaar dat die universiteit se kunsversameling aan die Aardklop-gehoor oopgemaak word deur ʼn kunsversameling van so ʼn groot skaal.

Feesbestuurder Alexa Strachan, hoofkurator Christina Naurattel en Niel Nortje van MTN. Foto: Marianke Saayman
Feesbestuurder Alexa Strachan, hoofkurator Christina Naurattel en Niel Nortje van MTN. Foto: Marianke Saayman

Die kunswerke wat hier ingesluit word is van plaaslike en internasionale kunstenaars en sluit werke in van Bettie Cilliers-Barnard, Irma Stern, Sam Nhlengethwa, Maggie Laubser en William Kentridge. MTN en NWU se versamelings tree hier in gesprek met mekaar en is nie gebonde aan ʼn sekere tydperk of styl nie. Tydens hierdie deel van die safari is gaste bederf met heerlike brood en kaas en natuurlik nog heerlike wyn.

Jody Olën, Rowland Daniel en Magriet Heefer. Foto: Marianke Saayman
Jody Olën, Rowland Daniel en Magriet Heefer. Foto: Marianke Saayman

Hierna het almal na die Snowflake gebou gereis om te kyk na kunswerke van plaaslike kunstenaars. Hierdie pragtige landmerk in Potchefstroom is vanjaar weer deel van die visuele kunsteprogram en plaas ons plaaslike talent in die kollig.

Kunstenaars Sandi Baker, Velias Ndaba en Ann Gollifer van Botswana. Foto: Marianke Saayman
Kunstenaars Sandi Baker, Velias Ndaba en Ann Gollifer van Botswana. Foto: Marianke Saayman

Naurattel het tydens die safari gesê dat sy in ʼn oorlog is – ons kultuur is in gevaar en sy sal veg om dit lewendig te hou. Sy bedank almal wat hierdie oorlog saam met haar veg en die Aardklop 2016 Visuele Kunsteprogram help moontlik maak het.
Die kunswerke in die verskeie galerye sal tydens die duur van Aardklop deur feesgangers gesien kan word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button