Kiesers weet nie probleem is reggestel

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die foutiewe herregistrasie van kiesers in die Potchefstroom-omgewing nou reggestel, maar blykbaar sonder om kiesers daaroor in te lig.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die foutiewe herregistrasie van kiesers in die Potchefstroom-omgewing nou reggestel, maar blykbaar sonder om kiesers daaroor in te lig.

Tientalle kiesers in die Tlokwe-gebied, wat Potchefstroom bedien, was verlede week benoud nadat hulle briewe van die OVK gekry het waarin staan hulle is hergeregistreer om tydens die munisipale verkiesing vandeesweek Woensdag  by stasies in onderskeidelik Ventersdorp en die Ikageng-township buite Potchefstroom te stem.

Die chaos het gekom nadat wyke in Tlokwe en Ventersdorp heringedeel is omdat die Tlokwe- en Ventersdorp-munisipaliteit saamsmelt.

Dr. Tumelontle Thiba, hoofkiesbeampte in Noordwes, het verlede week gesê hulle weet van die probleem met foutiewe herregistrasies en het navrae na die OVK se nasionale kantoor verwys. Dié kantoor het sedert verlede week nie op herhaalde navrae van die Herald gereageer nie.

Intussen blyk dit nou die probleem is stil-stil reggestel, al het Mosotho Moepya, hoofkiesbeampte, vroeg verlede week aan Chris Hattingh, DA-parlementslid, gesê die regstelling sal wyd aan die publiek gekommunikeer word.  Twee inwoners wat verkeerdelik in ander wyke geherregistreer is, het Dinsdag aan die Herald gesê hulle het nog geen amptelike kennis van die OVK gekry dat die probleem reggestel is nie.

Hattingh sê dit lyk of daar met die OVK se rekenaarstelsel ’n fout met die stemdistriknommers ingesluip het.

“Ons het intussen met die stuur van talle SMS’e bevestig Tlokwe-kiesers wat in verkeerde stemstasies hergeregistreer is, is nou weer by die regte stemstasies geregistreer.”

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in Tlokwe, sê die OVK het tydens ’n vergadering verlede Donderdag ook aan hul gesê kiesers sal ingelig word oor die regstelling, maar dit het teen Dinsdagmiddag nog nie gebeur nie.

“Ons is bekommerd dat kiesers wat herregistrasie-briewe ontvang het en nie weet van die regstelling nie, nie sal gaan stem nie.”

Moolman sê die DA het die gewysigde kiesersrol met die regstellings van die OVK ontvang, maar nou het ’n klomp wyke meer kiesers as wat daar voor die regstelling was. “Ons bestudeer nou die lyste om te bepaal hoekom.”

Moolman sê kiesers in Tlokwe kan nou gaan stem by die laaste stasie waar hulle self geregistreer het vóór die proklamasie van die verkiesingsdatum vroeër vanjaar. “Neem jou ID-dokument met die strepieskode as bewys van jou registrasie saam wanneer jy gaan stem. Indien jou naam nie op die kiesersrol verskyn by die stasie waar jy moet stem nie, kan jy daarop aandring om daar te stem.”

*Stuur jou ID-nommer na 32810 om te sien by watter stemstasie jy geregistreer is.

 

Exit mobile version