Rioolstelsel op die Bult is onder geweldige groot druk

Dele van die rioolstelsel op die Bult is onder geweldige druk en die volume-vermoë daarvan word met tot 200% oorskry.

Dele van die rioolstelsel op die Bult is onder geweldige druk en die volume-vermoë daarvan word met tot 200% oorskry. Dit het die stadsraad genoop om onlangs meer as R7 miljoen vir volgende jaar te begroot om die stelsel in die Molen- en Rissikstraat omgewing te begin opgradeer. Om die stelsel ten volle op te gradeer sal glo meer as R30.4 miljoen kos. Die areas wat die ergste geraak word is rondom Meyer-, Gerrit Dekker-, Rissik-, Molen- en Thabo Mbekistraat. Hier loop die stelsel tussen 34% en 200% oor sy vermoë.
Die Herald het al in 2014 berig oor riool wat by verskeie plekke op die Bult uit mangate borrel. In een geval was die hele erf onder riool. In die reëntyd beland stormwater boonop in die stelsel wat die situasie vererger.
Hoewel dit aan ’n verstopping toegeskryf word was daar pas by OudeWerf gastehuis ’n geval waar riool uitgeborrel het. Riool wat uitborrel kom ook gereeld by Gimmies se sportvelde voor.


Volgens ’n verslag aan die stadsraad wat die Herald onder oë gehad het, is 71 persent van die woonstelle en meenthuise wat tussen 2004 en 2013 in die stad opgerig is, op die Bult gebou en is dié verdigting op die Bult die groot rede waarom die verouderde rioolstelsel so geweldig onder druk is.
Die verslag sê dat ‘die Bult area astronomiese ontwikkeling in terme van die bou van woonstelle en studentebehuising ondergaan het.
Die ontwikkeling is direk as gevolg van die tempo waarteen die NWU Pukke groei.
Volgens Johan van Zyl, skakelbeampte van die NWU Potchefstroom kampus, toon statistiek dat sedert 2013 die PUK met skaars 4% gegroei het.
Die rioolstelsel is in die 1950’s gebou en hoewel daar op plekke opgradering gedoen is, is die meeste dele van die stelsel 60 jaar oud.
Die Herald het navrae oor die stelsel gedoen nadat gebruikers van die Potchefstroom Facebook-blad in ’n peiling gevra het dat die Herald dit moet opvolg.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version