Dié soort meningitis is nie so gevaarlik

‘n Student aan die NWU se Potchefstroomkampus is met ‘n virale breinontsteking gediagnoseer.

‘n Student aan die NWU se Potchefstroomkampus is met ‘n virale breinontsteking gediagnoseer.
Volgens ‘n verklaring op die NWU-Pukke Facebook-blad is dit nie die aansteeklike breinvliesontsteking nie.
Volgens die verklaring is sy in ‘n hospitaal in Krugersdorp opgeneem en word vir haar simptome behandel. In die verklaring word mede-Pukke versoek om enige gerugte oor meningitis op die kampus in die kiem te smoor.
Vroeër vanjaar is Nicola Badenhorst en verlede jaar Leana Labuschagne aan die gevaarlike breinvliesontsteking oorlede.
Johan van Zyl, skakelbeampte by die Potchefstroom kampus, het by navraag beklemtoon dat die huidige geval nie die aansteeklike breinvliesontsteking is nie.
“Ons het mense in kennis gestel bloot omdat daar gerugte die rondte gedoen het dat dié geval ook die gevaarlike meningitis was,” het Van Zyl gesê.
Volgens dr. Emile Kotze, direkteur, kampus-gesondheidsdienste van die NWU, is die virus meningitis ’n inflammasie van die vliese rondom die brein. Dit word ook aseptiese meningitis genoem aangesien dit nie deur bakterieë veroorsaak word nie.
Virusse wat meningitis kan veroorsaak is waterpokkies (Herpes virusse-, pampoentjies-, maagwerk virusse (enterovirusse), HIV-, masels virusse, polio virusse en nog vele ander.
Hy sê hoewel virus meningitis gewoonlik nie gevaarlik is nie, kan dit somtyds behandeling in die hospitaal vereis met antivirus middels. Hierdie is veral waar by immuunonderdrukte pasiënte soos byvoorbeeld HIV pasiënte.
Langtermyn newe effekte is gewoonlik skaars, maar kan voorkom soos byvoorbeeld epilepsie, blindheid en verlamming.
“Ek moet beklemtoon dat dit skaars is en meestal nie gevaarlik is soos met ‘n bakteriële (meningokokkale) meningitis nie. Ek wil weer ‘n beroep op almal doen om ingeënt te word teen meningitis, masels, Duitse masels en kinkhoes,” het Kotze gesê.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version