NewsNews

‘Man van staal’ word Vrydag in Potchefstroom verwag

Paul Steyn gaan Vrydag uiteindelik in Potchefstroom aankom, nadat hy die afgelope sewe maande reeds 4 700 kilometer deur die land geloop het.

Paul Steyn gaan Vrydag uiteindelik in Potchefstroom aankom, nadat hy die afgelope sewe maande reeds 4 700 kilometer deur die land geloop het.
Hy beplan om Vrydagmiddag omstreeks 12:00 by die weermagbasis te wees en gaan van daar af na die Noordwes-Universiteit se kampus tot by PUK FM se kantore loop. Hy hoop om deur lede van die weermag en studente vergesel te word. Enige iemand wat Paul wil verwelkom en saam met hom tot op die kampus wil loop, kan hom om 12:00 by die weermagbasis ontmoet.
Paul is in Baberton gebore en het in Sannieshof grootgeword. Hy was in Coligny op skool en het op 13-jarige ouderdom sy been in ʼn fratsongeluk verloor toe dit onder ʼn grassnyer beland het. “Dit was ʼn baie moeilike tyd in my lewe. Ek was ses maande in die hospitaal en na ʼn jaar het ek in die Abraham Kriel kinderhuis in Potchefstroom beland. “Ek was maar ʼn negatiewe outjie,” vertel hy.
Na ʼn tyd het Paul met die hulp van die Here sy selfvertroue teruggekry.

“Ek het vir myself gesê dat die lewe nie stilstaan nie.”

“Ek het geweet dat dit my sterk eienskap is – ek is lief daarvoor om te loop en ek wil mense help.”
Hy het in 2012 die Paul Steyn Foundation gestig en het tot nou toe reeds 13 mense landwyd gehelp om prostese te kry. Hy het sy eerste tree in 2012 gegee en teen Vrydag sal hy reeds sowat 9 700 kilometer geloop het vir mense met prostese.
Paul het met sy huidige projek in Augustus 2015 weggespring in Kaapstad en beplan om teen Desember weer daar aan te kom. Hy stap van een provinsie na die volgende, samel fondse in en vertel mense van die Here. So help hy ander mense wat dit nie kan bekostig nie, om prostese te kry. Hy loop alleen van dorp tot dorp en rus dan ʼn dag of twee in elke dorp waar hy kom. Tydens sy rusdae doen hy motiveringspraatjies by kerke en skole in die dorp.
Wanneer hy nie besig is om die land plat te loop nie, is Paul in die filmbedryf besig. Hy is ʼn waaghals en het al in talle films sy ‘been verloor.’ “My been is al ‘opgeblaas’,” vertel hy. Hy wil ook volgende jaar ʼn filmspan saam met hom neem en ʼn TV produksie van sy toer maak.
“Prostese is baie duur en mense wat gebruik maak van staatshospitale is soms tot sewe jaar op ʼn waglys. Amper geen mediese fonds betaal vir prostese nie,” sê hy.
“Dit is hartseer.” Hierdie is die rede waarom Paul die organisasie gestig het, sodat meer mense prostese kan ontvang.

“Moet nooit opgee nie, die lewe is beautiful,” sluit hy af.

Die Paul Steyn Foundation is ʼn niewinsgewende organisasie (NPO 098-701). Enige donasies kan help om iemand se lewe te verander. Die bankbesonderhede is: Paul Steyn Foundation, FNB, rekeningnommer: 62326196294, takkode: 250655.

Fellows by Canal Crossing gaan al Paul se eet en drinkgoed vir die dag borg, en ‘n persentasie van alle verkope by Fellows gaan na die Paul Steyn Foundation. Dit geld van Vrydag tot Woensdag die 20ste wanneer Paul Potch gaan verlaat.

Related Articles

 
Back to top button