Eleazer huis nog steeds onaangeraak

Die huis in Eleazerstraat wat verlede jaar afgebrand het en intussen ’n hawe vir kriminele, haweloses en dwelmgebruikers geword het, is nog onaangeraak deur die eienaars of die munisipaliteit.

Die huis in Eleazerstraat wat verlede jaar afgebrand het en intussen ’n hawe vir kriminele, haweloses en dwelmgebruikers geword het, is nog onaangeraak deur die eienaars of die munisipaliteit.
Volgens Annemarie Lensing, ’n trustee van Urban Living wat aan die erf grens, sukkel sy al ’n geruime tyd dat daar iets aan die erf gedoen word.

‘n Ander teorie is dat mense gesien het dat daar rommel gestrooi word en dit nou as ‘n onwettige stortingsterrein gebruik

“Daar is glo ’n vrou hier naby verkrag. Ons het mediese afval hier gekry wat ons later verbrand het, omdat die departement van gesondheid nie wou uitkom om dit te verwyder nie. Ons sien gereeld jong kinders wat daar in en uit beweeg,” vertel sy.

Die erf het ’n stortingsterrein geword waar alles van huishoudelike vullis tot bourommel gestort word. Volgens Lensing het sy al alle kanale probeer volg om iets aan die situasie te doen.

Daar word vermoed dat haweloses swartsakke kom uitgooi en deur die vuilgoed sif vir bruikbare items

“Ek het almal wat ek kan by die departement van gesondheid geskakel. Almal by die stadsraad, selfs ander politieke partye om te help, maar niemand kan of wil iets doen nie,” het ’n gefrustreerde Lensing gesê.
Die eiendom is glo deel van ’n geskil in ‘n boedel, nadat die oorspronklike eienaar, asook die seun wat die eiendom moes erf, albei oorlede is. Behalwe vir die veiligheidsaspek wat die leë erf inhou, is daar ‘n redelike waterlek op die erf en die eiendomsbelasting is glo ook baie agterstallig.
Volgens William Maphosa, munisipale woordvoerder, het die distrik se gesondheidsinpekteurs die probleme aan die prokureurs wat die eienaar verteenwoordig, gekommunikeer.
“Ongelukkig het hierdie geval sy eie uitdagings. Die prokureur van die boedel het onlangs onttrek van die saak. Die familie wat in Johannesburg bly kan tot op datum nog nie opgespoor word nie,” het Maphosa gesê.
Die Herald het self ook probeer om die eienaar te skakel, verskeie boodskappe is gelos, maar teen druktyd kon daar steeds nie met die eienaar gekommunikeer word nie.

Die uitkyk van Urban Living af.

Daar is ’n vergadering tussen alle relevante munisipale departemente asook die stadsraad se regsverteenwoordiger vir  beplan waar ’n moontlike oplossing bespreek sal word.
Intussen wag die eienaars van die huise in spanning vir optrede van die owerhede af.
Volgens Lensing het die stadsraad in Desember verlede jaar ’n stuk grond wat ook aan Urban Living behoort, skoongemaak waarna hulle vir die trustees die rekening gestuur het.
“Dit was net ’n beboste area wat hulle skoongemaak het, niks soos wat by daai huis is nie,” het Lensing gesê.
Maphosa het by vorige navrae bevestig dat dit die standaardpraktyk is van die munisipaliteit om in so ‘n geval die erf skoon te kry en dan die rekening vir die eienaar te stuur.
“Waarom doen hulle dan nie dieselfde met dié erf nie?” het Lensing gevra.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version