Oud- Puk verlam na ongeluk

Ulrich Bester (24), die voormalige Luiperd-rugbyspeler wat verlede week in ‘n ongeluk in Brits verlam is, leer sy verpleër nou Afrikaans praat.

Ulrich Bester (24), die voormalige Luiperd-rugbyspeler wat verlede week in ‘n ongeluk in Brits verlam is, leer sy verpleër nou Afrikaans praat.
Volgens sy broer, Daniël, is Ulrich baie positief nadat hy verlede Vrydagmiddag geopereer is. Hy word in die Lenmed Private Hospitaal in Randfontein verpleeg.
Ulrich het tot sowat twee jaar gelede slot vir die Luiperds gespeel en het vroeër ook vir die Noordwes-Universiteit rugby gespeel. Ulrich werk nou by ‘n onderneming in die Hartebeespoort-omgewing, wat brandstelsels vir myne installeer. Daniël rig die NWU-Pukke se eerstespan en die Luiperds se o.21-rugbyspan af.
Volgens Daniël moes die chirurg verlede Vrydag Ulrich se vierde en vyfde nekwerwel verwyder omdat albei baie sleg gebreek het in die ongeluk. ‘n Metaal-struktuur is in die plek daarvan geplaas.

Ulrich Bester in Lenmend Privaat Hospitaal in RAndfontein

“Ulrich sê hy voel veilig en daar word mooi na hom gekyk,” het Daniël vandeesweek gesê.
“Die verpleegsuster wat hom versorg, kan net Engels praat en hy leer haar nou Afrikaans. Ulrich is baie sterk, hy is meer besorg oor ander en sy werk as oor homself. Hy kry pynmedikasie en het nou minder pyn as eers.”
Daniël sê Ulrich se rugmurg is ook erg in die ongeluk beskadig. “Die dokters voorspel hy gaan van sy skouers af verlam wees, maar hulle gee gewoonlik die swakste moontlike prognose omdat hulle nie vals hoop wil skep nie. Ons glo en hoop op ‘n beter prognose.”
Die ongeluk waarin Ulrich beseer is, het verlede Dinsdag (31 Mei) gebeur by ‘n kruising in Brits waar die verkeersligte nie werk nie.
“Ulrich en drie van sy kollegas was op pad terug van ‘n myn na hul kantoor toe,” het Daniël vertel. “Hulle het by die kruising gestop en gewag vir hul beurt om te ry. ‘n Vrou het skielik teen ‘n hoë spoed teen die linker-voorkant van die Toyota Fortuner waarin my broer ‘n passasier was, vasgejaag.”

Die wrak va ndie voertuig waarin Ulrich Bester was toe die ongeluk gebeur het

Ulrich is per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem en daar gestabiliseer, voordat hy na die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is omdat hy nie ‘n mediese fonds het nie.
Daniël het intussen geld begin insamel van Ulrich se vriende, oud-afrigters en rugbymaats van regoor die land. Dis danksy hul welwillendheid dat hy twee dae ná die ongeluk na die hospitaal in Randfontein oorgeplaas kon word.
Ulrich se ouers, Naomi en Niel, is pal aan sy sy in die hospitaal.
Volgens Daniël sal Ulrich nog vir ten minste twee weke in die hospitaal wees voordat hy moontlik na ‘n rehabilitasiesentrum oorgeplaas kan word.
Daniël werf steeds hulp vir Ulrich se mediese koste. “Ek het intussen ook al briewe geskryf aan verskeie radiostasies (met liefdadigheidsprojekte).”
* Mense wat wil help met Ulrich se mediese koste, kan Daniël by 084 586 9562 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version