NewsNews

Potchefstromers kla oor kontrakteur

Vier Potchefstromers is na bewering deur ’n kontrakteur ingedoen. Die kontrakteurs wat adverteer as Du Plessis konstruksie, skoonmaakdienste en plaveisel is glo al ’n geruime tyd besig om mense in te doen deur deposito’s vir werk te neem, maar dan word die werk glo nie gedoen nie.

Vier Potchefstromers is na bewering deur ’n kontrakteur ingedoen.
Die kontrakteurs wat adverteer as Du Plessis konstruksie, skoonmaakdienste en plaveisel is glo al ’n geruime tyd besig om mense in te doen deur deposito’s vir werk te neem, maar dan word die werk glo nie gedoen nie.
Daar is al 17 klagtes van bedrog in Klerksdorp teen die eienaar, Willem Muller, ingedien.
Die Herald het ’n maand gelede advertensies van dié besigheid gestaak totdat die hofsaak afgehandel is en nadat klagtes ontvang is.
Verlede week het die Facebook groep, Hello Pietie, behoorlik gegons met Potchefstromers wat kla oor dié kontrakteur. In al die gevalle is dieselfde patroon gevolg: die kontrakteur het 70% deposito geëis, waarna die werk wat hulle moes kom doen nooit gedoen is nie.
Sienie van Vuuren het R10 500 verloor op werk wat hulle aan haar swembad moes kom doen, wat nooit voltooi is nie. Volgens Schalk Jacobs het hy hulle gekontak om ’n huis te kom skoonmaak. Hy het R700 oorbetaal maar die kontrakteur het nooit opgedaag om die huis skoon te maak nie.
“Hulle sou toe die volgende dag begin skoonmaak, maar die volgende dag toe hulle nie opdaag nie, het ek hom gekontak waar hy gesê het sy skoonma is oorlede. Hulle sou toe die dag (Maandag) daarna kom skoonmaak.
“Die Maandag het hulle ook nie opgedaag nie en daarna het ek niks weer van hulle gehoor of gesien nie, hulle beantwoord nie my oproepe nie,” het Jacobs gesê.
“Ek wag sedert 10 Maart en het al baie geskakel en baie beloftes gekry. Vandag was die sewende keer wat hulle sou opdaag,” het Hannatjie Pienaar op Hello Pietie gesê oor die kontrakteurs.
Linda Cloete, eienaar van Harteliefies Dagsorg is ook glo deur Muller ingedoen.
Die ondersoekbeampte wat die sake in Klerksdorp hanteer, het versoek dat enige iemand wat deur die kontrakteur ingedoen is, haar moet kontak. Ao. Connie Nepgen se e-posadres is klerksdorp.detfraud@saps.gov.za. Noem in die e-pos dat ’n klag teen Scheepers en Muller gelê wil word. Anders kan sy geskakel word by 073 133 3264.
* Die Herald kon na vele probeerslae nie vir Muller in die hande kry om kommentaar te lewer nie.

Related Articles

Back to top button