Parys moorde: Negende beskuldigde uit op borg

Die negende beskuldigde wat tereg staan op twee aanklagte van moord is Vrydag 22 April borgtog van R10 000 in die Parys-landdroshof toegestaan.

Die negende beskuldigde wat tereg staan op twee aanklagte van moord ná die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa in Januarie vanjaar op ’n plaas in die Weiveld-distrik, die 19-jarige Wikus van der Westhuizen, is Vrydag 22 April borgtog van R10 000 in die Parys-landdroshof toegestaan. Die staat het nie die borgtog teengestaan nie.

Wikus is deur sy pa Nelis, vir wie hy ook boer, by die hof ondersteun.  Die voorsitttende beampte was landdros Gustav Prinsloo.

Die ander beskuldigdes in die saak is Boeta van der Westhuizen (46), Anton Loggenberg (49), kapt. Henk Prinsloo (46), Wian van der Westhuizen (20), Fanie Oosthuizen (42) en Müller van der Westhuizen (19). Die staat het intussen sy saak teen Johan Cilliers sr. en Johan Cilliers jr. teruggetrek.

Al die beskuldigdes, met die uitsondering van Prinsloo, is boere van die distrik.

Die dood van Jubeda en Tjixa het gevolg ná ’n plaasaanval op die 73-jarige Loedie van der Westhuizen, pa van Boeta van der Westhuizen op 6 Januarie vanjaar toe hy glo deur twee mans by sy huis aangeval is.

Nagenoeg 40 boere het op die noodroep ná die aanval gereageer, waarop die oorledenes wat van die plaasaanval verdink is, op ’n naburige plaas deur boere in hegtenis geneem is. Hulle was volgens polisierekords erg aangerand en is kort daarna oorlede.

Al die beskuldigdes moet weer op 27 Mei in die hof verskyn. Boeta van der Westhuizen sal dan ook weer op ’n ander klag van intimidasie verskyn.

 

Exit mobile version