NewsNews

Potch groet familieman – Hannes Botha

Daar was nie genoeg plek in die kerk vir almal wat Hannes Botha wou kom groet nie.

Vroeg Sondagoggend, 17 April is dinamiese familieman en oud-munisipale bestuurder, Hannes Botha, op 65-jarige ouderdom oorlede aan ‘n hartaanval.

Sy skielike dood het die gemeenskap, sy familie en vriende hard geruk.

“Hy was die afgelope week nog by ‘n gholftoernooi en alles het goed gegaan, en toe skielik het hy begin sleg voel Saterdagaand. Hy is Sondagoggend dood aan wat ons vermoed is ‘n hartaanval,” sê sy vrou, Wilna.

Hannes en sy vrou Wilna.
Hannes en sy vrou Wilna.

Hannes het bloedkanker gehad, maar dit is nie die oorsaak van sy afsterwe nie. Alhoewel hy nog onder behandeling was, het die kanker hom nie onder gekry nie, en het hy glad nie gewys dat hy siek is nie. “Hy was ‘n baie positiewe, goeie, saggeaarde, ordentlike gentleman” sê sy skoondogter Tilla. “Almal het van hom gehou en dit het altyd net goed gegaan met hom, selfs terwyl hy siek was – jy sou hom nooit hoor kla nie. Ek dink die helfte van die mense wat hom ken het nie eers geweet hy is siek nie”.

 

Hy was Munisipale Bestuurder van die Tlokwe Stadsraad vanaf 1 Februarie 1994 tot 31 Maart 2005.

Vlnr: Hannes se skoondogter Tilla, sy vrou Wilna en sy seun Louis.
Vlnr: Hannes se skoondogter Tilla, sy vrou Wilna en sy seun Louis.

 

Voor dit was hy stadsbeplanner in Pretoria en toe daarna was hy hoof stadsbeplanner by Verwoerdburg (nou Centurion) Stadsraad tot hy en sy gesin in 1994 na Potchefstroom verhuis het.

Na sy aftrede as Munisipale Bestuurder het hy en sy seun, Louis, hul eie privaatfirma naamlik H&W Stadsbeplanning begin, waar Louis steeds is.

Wanneer hy nie besig was met stadsbeplanning nie, het hy op groener weivelde grasieus ‘n gholfstok rond geswaai.

Hannes was 'n bekende gholfspeler.
Hannes was ‘n bekende gholfspeler.

“Hy was ‘n baie gewillige gholfspeler”, sê Wilna. “Hy is Mr. Golf!” moes Bennie van Wyk, buurman en jare-lange familievriend van die Botha’s by las. Hannes was ‘n lid by die Potchefstroom Gholfklub van 1994 en is ook al die afgelope paar jaar klubkaptein en voorsitter van die countryclub.

Hy was in sy jongdae ‘n kranige langafstand atleet en het aan sowat 9 Comrades resies deelgeneem. Hy het op sy oudag ook ‘n liefde vir motorfietse ontwikkel en het dit baie geniet om saam met sy vriende te gaan op breakfast runs.

Hy was ‘n familie-man wat altyd goed na sy vrou van 42 jaar en twee kinders, Louis Botha en Lize de Beer, gekyk het. Hy was ook oupa van drie pragtige dogtertjies.

Hannes saam met een van sy kleindogters.
Hannes saam met een van sy kleindogters.

“My steunpilaar en my rots is weg,” sê Wilna. Sy vriend Bennie beskryf hom as ‘n dinamiese persoon wat sy siel vir pap sou verkoop. “Hy was ‘n yster! Ons gaan hom geweldig mis”.

Die begrafnisdiens het op Vrydag 22 April om 11:00 plaasgevind by die Gereformeerde Kerk Potchefstroom Oos en die strate was propvol mense wat wou kom bywoon. Daar was nie genoeg plek in die kerk vir almal wat Hannes Botha wou kom groet nie.

 

Soortgelyke Stories

‘Daai groot stem is nou stil’ – ongeluk eis geliefde pa

Related Articles

Back to top button