Pragstudent verloor stryd teen lewerkanker

Elinza Mostert is op Vrydag 15 April oorlede, net twee dae na haar 21ste verjaarsdag...

“Sy het soveel mense leer bid,” sê Carina Mostert, ma van 21-jarige student Elinza Mostert wat op Vrydag 15 April haar stryd teen lewerkanker verloor het.

Elinza was ‘n derdejaars BSc Verbruikerswetenskappe-student aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus en ‘n geliefde inwoner van Karlien Dameskoshuis.

Elinza saam met haar ma, Carina, en pa, Neels, in die hospitaal.

Alhoewel Elinza al vir 4 jaar hierdie rare tipe kanker gehad het, het sy vir die eerste keer op 17 Desember 2015 daarvan uitgevind. Ongelukkig is daar geen chemoterapie wat haar siekte kon genees nie, en moes sy ‘n lewer oorplanting kry.

Op 25 Februarie het haar niggie Marinel Jooste ‘n gedeelte van haar lewer aan Elinza geskenk, en die operasie was ‘n sukses. Elinza moes ondanks die lewer, weer ‘n operasie ondergaan op Donderdag 14 April omdat een van haar galbuise gelek het en sy ontsteking in haar maag gekry het.

Elinza Mostert en haar niggie Marinel Jooste.

Tydens die operasie het haar lewer gaan staan. Elinza is die volgende dag om 17:20 oorlede. Sy het twee dae voor dit, op die 13de, haar 21ste verjaarsdag gevier.

“Sy is gebore op 13 April om 15:20 en oorlede op 15 April om 15:20,” sê haar ma, wat nie kan glo dat sy so vroeg moes groet nie.

Elinza wou met haar hele hart ‘n onderwyser word en het ‘n ongelooflike passie vir klein kinders gehad.

“Sy was verskriklik opreg en het met niks doekies omgedraai nie,” vertel Carina, “maar sy was baie spontaan ook, en baie sportief op skool”.

Elinza het duisende mense aangeraak voor haar afsterwe. Sy het ‘n paar mense gevra om vir haar te bid, en kort voor lank het sy honderde boodskappe gekry om haar te verseker dat sy in hulle gebede is. “Sy het ontsettend baie mense gekry om te begin bid,” sê Carina, “ek dink sy het haar doel hier bereik”.

Prof. Fika Janse van Rensburg, Rektor van die NWU-Potchefstroomkampus deel ook sy innige meegevoel oor Elinza. “Die Noordwes-Universiteit betreur Elinza se afsterwe en betuig innige meegevoel met haar ouers, familie en vriende, waaronder die inwoners van Karlien Dameskoshuis,” sê hy. “Dit is altyd besonders hartseer wanneer ‘n jongmens in die fleur van hul lewe weggeruk word. Dit is duidelik dat Elinza ‘n groot invloed op die rondom haar gehad het en baie sal haar mis”.

Elinza Mostert het na byna elke manskoshuis se dinee gegaan.

Haar koshuismaats het haar geken as Ching, en beskryf haar as ‘n koshuis legende.

“Haar plek is leeg in Karlien,” sê Lizanne Loots, koshuis Primaria van Karlien, “ek wens daar was meer wat ‘n mens kon doen om die mense wat agterbly se seer weg te vat, maar net God sal vir almal vertroosting kan gee. Elinza is Karlien se legend!”

Elinza se ma het tydens haar hospitalisasie ‘n Facebook groep begin waarop sy oor haar vordering gepraat het. Vandag is die groep, sowel as Elinza se Facebook blad propvol boodskappe van die baie mense wie sy aangeraak het.

‘n Vriend van haar, Yohan Mitchell het ‘n boodskap geskryf van toe hy haar ouers gaan sien het: “ons het gepraat oor hoe mooi jy is en oor hoe uniek jou stem was. En hoe jy duisende lewens geraak het deur om net jouself te wees. En vir ‘n klein oomblik in tyd het ek besef jy is met ons, ‘n warm kombers het my hart omvou om jou ouers en boetie te sien ‘smile’”.

Elinza se ma het die laaste keer toe sy haar dogter gesien het ook op Facebook beskryf:

“Ek het jou Donderdag voor die teater gegroet met: Elinza dis die laaste keer, jy is nou in God se hande en as jy uitkom is jy gesond! En jy was! Jy het nooit weer wakker geword nie! Rus in Vrede my mooiste engelkind! Jy het Donderdag in jou deurmekaargeid my en pappa se hande gesoen en vir my jou duim gewys voor die teaterdeure toeklap!”

Elinza Mostert was baie spontaan.

Elinza Mostert laat haar ma Carina, pa Neels en jonger boetie Corno, na.

Haar roudiens sal op Vrydag 22 April om 11:00 ter NG Kerk Krokodilrivier, Brits plaasvind.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version