‘Pasop vir dié pad uit Carletonville’

‘n Inwoner van Carletonville waarsku dat mense op die uitkyk moet wees vir skelms op een van die paaie wat uit die dorp lei.

‘n Inwoner van Carletonville waarsku dat mense op die uitkyk moet wees vir skelms op een van die paaie wat uit die dorp lei. Volgens die 20-jarige Charles Fensham, was hy onlangs net na 20:00 besig om van Doornfontein na sy huis in Oranjestraat in Carletonville terug te loop. Hy was amper by die afdraai na Carletonville vanuit die P111-pad, toe iets ongewoon met hom gebeur het. “Ek het skielik begin voel iemand kyk vir my,” het Fensham aan die Herald vertel. Aangesien dit donker was en hy nie kon sien wat om hom aangaan nie, het hy aangehou om na Carletonville te stap. Hy vertel dat hy amper by die Carletonville-teken by die ingang van die dorp was, toe hy skielik gehoor het dat die persoon wat hom agtervolg het, begin hardloop. Fensham het hom byna doodgeskrik, die tas wat hy by hom gehad het neergegooi en ook begin hardloop. Hy vertel dat hy na die oorkant van die verlenging van Onyxstraat, waar dit uit die P111-pad draai, gehardloop het. Gelukkig vir hom het ‘n ander inwoner, mnr. Ben James, wat met ‘n familielid na Welverdiend onderweg was, hom in die donker langs die pad gesien. James het dadelik gestop en gevra of hy Fensham kan help. “Ek kon dadelik sien die outjie is “gestres” en het hom gevra wat makeer. Hy het gesê dat mense hom jaag en ek het hom in die kar laat klim. Toe ek my kar
draai dat die ligte in die bosse in skyn, kon mens drie mans by die bome sien. Ek wil nie weet wat met hom sou gebeur het as ek nie op daardie tyd opgedaag het nie,” het James aan die Herald vertel, “As dit nie vir die oom was nie, weet ek nie wat met my sou gebeur het as daardie mans my in die hande sou kry nie,” het Fensham beaam. Gelukkig kon hy die tas wat hy neergegooi het, optel voor James hom na veiligheid geneem het. “Dit is nie die
eerste keer dat ek van probleme in daardie area hoor nie. Dit kon my of jou seun gewees het wat amper iets oorgekom het. Jong-mense moet asseblief nie alleen na sononder daar loop nie. Mense moet mekaar ook meer probeer help. Ek voel ook bekommerd dat veral vroue na donker daar ry en nie weet dat daar mense is wat hulle kan voorlê nie,” het James aan die Herald vertel. Die Herald kon nie meer inligting oor die voorval of soortgelyke voorvalle by die polisie in Carletonville kry nie.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version