Local newsNewsNews

Update: Kunstefees in Oktober gaan voort

Lees die volle berig oor die Potchefstroom Kunstefees hier

‘n Kunstefees in die plek van Aardklop, wat bekend sal staan as die Potchefstroom Kunstefees, vind vanaf 4 tot 9 Oktober vanjaar in die stad plaas!
Daar sal ook so gou moontlik, waarskynlik in die eerste helfte van Mei vanjaar, meer inligting beskikbaar wees oor inskrywings vir die feesprogram en aansoeke vir stalletjies en ander dienste.
Dié aankondiging is Woensdagoggend deur mnr. Japie Gouws, die segspersoon van die belangegroep wat hulle beywer vir die voortsetting van ‘n kunstefees vir Potchefstroom, gemaak.
Dit volg na ‘n vergadering op 14 April van die groep belanghebbendes wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes-Universiteit, stigtersborge, asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor baie jare.
Die groep het ontstaan na die aankondiging deur die direksie van die Aardklop Stigting dat die jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees met onmiddellike effek gestaak word en dus nie in 2016 aangebied sal word nie.
Die groep was bekommerd dat alle aspekte van so ‘n besluit nie in ag geneem is nie, veral die invloed op die ekonomie van Potchefstroom. Gouws, ook die besturende direkteur van die ATKV-groep, sê dit laat ook ‘n groot leemte in die platform vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorme in die noorde van Suid-Afrika. Hierdie platform is oor 18 jaar deur Aardklop daargestel met die hulp van stigters- en ander borge wat baie in die handelsmerk, die kunste en die gemeenskap van Potchefstroom belê het.
Hy sê om so ‘n fees aan te bied is borge van uiterste belang en hulle het ‘n paar weke gelede besluit om te fokus op die werwing van borge voordat ‘n finale besluit oor ‘n fees geneem kon word.
Hy sê hoewel die gestelde doelwit met borgskappe nog nie heeltemal bereik is nie, was die terugvoering so positief dat die groep besluit het om voort te gaan met die fees.
Volgens Gouws word daar nou volstoom gewerk om verdere borge vas te maak, asook om persone aan te stel wat die bestuur van die fees sal hanteer. “Die naamregte ten opsigte van Aardklop Kunstefees kon ongelukkig (nog nie) bekom word nie en die fees sal nou eers as die Potchefstroom Kunstefees bekend staan,” het Gouws gesê. Hy sê die belangegroep is intussen besig om ‘n nuwe maatskappy sonder winsbejag te stig waarin alles ten opsigte van die fees hanteer sal word. Sodra die maatskappy gestig is, sal ‘n direksie saamgestel word.
Gouws het beklemtoon dat daar ook, saam met ander kundiges, persone uit die plaaslike gemeenskap in die direksie moet dien en nominasies daarvoor sal deur middel van die plaaslike media gevra word.
Hy sê die goedgesindheid van die sake- en gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, stigters- en ander borge, asook die breë kunstegemeenskap, was verstommend en het die besluit om met so ‘n fees voort te gaan, vergemaklik.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button