Klagtes na herrie by woonstelkompleks

'n Student, wat 'n inwoner is van 'n spoggerige woonstel kompleks, is deur 'n mede inwoner en sy vriene glo aangerand.

Klagtes is teen ‘n student gelê nadat hy na bewering ‘n mede-inwoner, ook ’n student, aangerand het.
Die inwoner van die luukse Del Montè studentewoonstel-kompleks in Hoffmanstraat is glo deur ’n mede inwoner aangerand nadat hy gaan kla het oor die hek wat dié inwoner en sy vriende na bewering beskadig het.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar ’n saak van aanranding aangemeld is. Die familie het ingestem om met die Herald te praat op voorwaarde van anonimiteit, omdat beide studente nog in die kompleks woon.
Volgens die student se ma het haar seun en een van sy vriende omstreeks 02:00 Donderdag wakker geword van ’n lawaai voor die kompleks se hek. Hulle het die betrokke mede-inwoner en sy vriende gesien wat aan die hek ruk totdat dit uiteindelik van die spore afgekom het.
“Ons as ouers het juis by Del Montè gekoop of gehuur weens die veiligheid by die kompleks. Diefstalle vier hoogty en hier breek hulle ’n toegangshek in die vroeë oggendure,” het die ma gesê.
Haar seun en sy vriend het by die betrokke inwoner en sy vriende gaan kla waarna hy glo deur die inwoner en sy vriende aangerand is.
“Ons seun het in die proses ligte harsingskudding opgedoen en sy gesig is erg opgeswel. Hy is in ‘n belangrike deel van sy studies en hierdie kan nie meer geduld word,” het die ma gesê nie.
Dit is glo nie die eerste probleem wat inwoners van die kompleks met dié spesifieke inwoner het nie.
“Daar was al verskeie klagtes, maar niks word aan die saak gedoen nie. Dit terwyl ander inwoners verontrief word,” sê sy.Volgens haar sluit klagtes teen dié inwoner in brandblussers wat in die laat ure van die nag gespuit word en urinering op die trappe, ’n rioolpyp wat in die parkeerarea uitgeruk is en mede-inwoners wat glo gevloek en geskel word as hulle kla oor die geraas.
“Daar word feitlik elke aand van die week tot in die oggendure kliphard gekuier met oop deure en harde musiek, wat met erge vloek gepaard gaan.
Verskeie damesstudente het al by hom gaan kla en word dan met die gebruik van die f-woord uitgejaag. Ander erge taal is ook al gebruik,” het die ma gesê
Volgens Habiplan se Braam du Plessis, het hy ’n afspraak met die betrokke student se pa gemaak om oor die probleme te praat. Die eienaar van die eenheid waarin die student bly is ook in kennis gestel van die verwikkelinge, teen druktyd het Habiplan nog gewag vir terugvoer van hom af.

Hieronder is twee videos wat opgeneem is tydens die aand wat die voorval plaasgevind het. Die eerste video is geneem terwyl die groep studente by die woonstel aangekom het. Die volgende video is die woordewisseling wat gelei het na die aanranding.

Waarskuwing in beide die videos word kru-taal gereeld gebruik. 

Exit mobile version