NewsNews

Besorgde inwoner soek antwoorde oor OG-verslag

“Ek vra al jare vir dienslewering wat nooit gebeur nie! Straatligte wat nie werk nie, waterlekke wat nie gou herstel word nie, slaggate, spoedwalle, verkeerstekens en straatname wat onleesbaar is!’ So sê ’n ontstoke inwoner, Kappie van Wyk, oor wat hy noem die verdoemende Ouditeur-Generaal se verslag oor die Tlokwe Stadsraad wat hy onlangs onder oë gehad het.

“Ek vra al jare vir dienslewering wat nooit gebeur nie! Straatligte wat nie werk nie, waterlekke wat nie gou herstel word nie, slaggate, spoedwalle, verkeerstekens en straatname wat onleesbaar is!’
So sê ’n ontstoke inwoner, Kappie van Wyk, oor wat hy noem die verdoemende Ouditeur-Generaal se verslag oor die Tlokwe Stadsraad wat hy onlangs onder oë gehad het.
Die verslag toon onder meer dat R43 116 964 van die infrastruktuur-begroting nie bestee is nie.
Volgens die verslag was daar R57 537 237 se onreëlmatige uitgawes (uitgawes wat aangegaan is wat teenstrydig is met die voorsieningsbeleid van die Raad) vir die 2014/2015 finansiële jaar, R7 605 676 se ongemagtigde uitgawes (uitgawes waarvan daar geen voorsiening gemaak is op die jaarlikse goedgekeurde begroting nie) en daar was steeds R1 686 288 se vrugtelose en verspilde uitgawes (uitgawes wat aangegaan is waarvan geen waarde vir geld ontvang is nie, byvoorbeeld die betaling aan boetes en rentes aan SARS vir laat indiening van BTW opgawes, of rente wat Telkom hef op die laat betaling van hul rekening), wat van vorige jare nog nie hanteer is nie.
Daar is ook probleme geïdentifiseer rondom die toekenning van munisipale kontrakte wat aan maatskappye toegeken is wie se aandeelhouers by die stadsraad werk of ander staatsinstansies. Volgens die verslag is daar al in vorige jare melding van die probleem gemaak maar dat niks gedoen is om die probleem te verhoed nie.
Volgens Van Wyk is vergaderings op 15, 16, 17 en 18 Maart deur die Raad gehou waar die publiek vrae oor die verslag kon vra. By die laaste vergadering is kapsie gemaak oor die swak opkoms, maar ’n inwoner het die wyse waarop die gemeenskap van die vergadering in kennis gestel is, bevraagteken.
Van Wyk sê “ons in Wyk 3 dring aan op ’n forensiese ondersoek oor die verkwisting van ons belastingbetalers se geld”. Volgens Neels Coetzer,koukus sweep van die DA is daar reeds 16 kriminele klagtes by die polisie gelê na aanleiding van die OG-verslag.
“Die sake is na die Valke verwys,” sê Coetzer.
Volgens William Maphosa, munisipale woordvoerder, het die stadsraad nog nie kans gehad om die verslag tydens ’n raadsvergadering te bespreek nie.
“Die meeste van die betrokke munisipale strukture, insluitend die administrasie en bestuur, het reeds die verslag nagegaan. Die Municipal Public Accounts Committee (MPAC) sal ’n verslag by die volgende raadsvergadering indien,” sê hy. Coetzer sê hierdie verslag van die MPAC moet in terme van wetgewing voor of op 31 Maart elke jaar aan die Raad voorgelê word vir oorweging en goedkeuring. Dit moet ter tafel gelê word, 60 dae nadat die jaarverslag gedien het, wat 31 Maart 2016 was. Geen verslag is ingedien nie, wat maar net weer een van die nie-voldoenings is in terme van wetgewing wat die ANC beheerde stadsraad blykbaar nie as dringend beskou nie.Volgens Hans Jurie Moolman, koukus voorsitter van die DA, is Tlokwe ‘n hoë kapasiteit munisipaliteit wat veronderstel is, volgens die Raad se staande orde reëls, om maandeliks te vergader ten einde raadslede in staat te stel om ‘n effektiewe oorsig oor die Raad se finansies uit te oefen. Ten spyte hiervan is vergaderings na die minimum van kwartaalliks deur die Speaker verminder. Moolman sê “in dié proses is die magsbalans vanaf die Raad na individuele politici en die munisipale bestuurder oorgeplaas.
“Dit het tot gevolg gehad dat ons tans met ‘n baie negatiewe verslag vanaf die OG sit en dat dit duidelik is dat ons munisipaliteit bykans al sy stelsels van verantwoordbaarheid verloor het,” sê hy.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button